Model: Subaru Forester 2.0XT Lineartronic CVT [post-slider] Motorjoernaliste is nogal verdeeld oor CVT-ratkaste. Bestuurders is of mal daaroor of hulle haat dit. Dit lyk my nie daar is draadsitters nie. Ek moet erken dat die Forester my oorgehaal het tot die “mal daaroor”-span. Dalk is dit nie met alle CVT-ratkaste die geval nie. Hoe ook al, die enjin-en-ratkas-kombinasie van die nuwe vlagskip Forester is uitstekend. Die Boxer-enjin lewer hope krag en wanneer ’n mens eers gewoond is aan die een-rat-gevoel van die motor, wil jy nooit ooit weer anders bestuur nie. Die nuwe ontwerpstyl lyk lekker aggressief. Hopelik val hierdie styl in meer mense se smaak. Self het ek nie van die vorige ontwerp gehou nie. Dit was heeltemal te alledaags. ’n Mens verwag iets anders van Subaru. Hulle motors is ikone en is nie veronderstel om na ou Corollas te lyk nie. Die groot allooiwiele en dagligte dra ook daartoe by om hierdie sportnutsvoertuig begeerliker te maak. Binne sit die ontwerpers die tema voort. Materiaal van hoë gehalte en goeie uitleg van die multimediastelsel. Nog ’n hoogtepunt is seker van die beste infografika wat ek nog in ’n motor gesien het. Maklik verstaanbaar en innoverend. Een verduidelik presies hoe krag versprei word tussen die vier wiele. ’n Ander verduidelik brandstofverbruik (verkeie weergawes), turbodruk, rygewoontes en selfs hoe hard jou voet op die versneller druk. Sportnutse is gewild vir hulle baie pakplek en die Forester ding hier goed mee. Waarvan ek baie hou, is die luikrug se geheue. Kom ek verduidelik . . . as jou motorhuis nie toelaat dat jy jou kattebak al die pad oop kan maak nie bied hierdie Subaru ’n oplossing. Jy kan hom stel sodat hy net so hoog oopmaak soos jy verkies. Als nog boonop elektronies met die druk van ’n knoppie. Van die teerpad af gedra die Forester hom ook goed. X-modus is voor die hand liggend om te aktiveer en doeltreffend. Slotsom

Suur: Sy stewige prys. Soet: Een van die beste motors wat ek nog bestuur het.

- Anton Vermeulen

  • PRYS R529 000
  • ENJIN 2,0 L-viersilinderpetrol; 177 kW, 350 Nm
  • VERRIGTING 0-100 km/h in 7,5 sek., topspoed 210 km/h; 8,5 L/100km
  • MEDEDINGERS Mitsubishi 2.4L GLS MIVEC AWD, BMW X1 xDrive 20i Sportline
  • ONS HOU VAN Lekker sportief met hope krag. Mal oor die ratkas en verstelbare luikrug
  • DIT PLA Nie veel nie, maar bietjie duur...
Mededingers:
  • Mitsubishi 2.4L GLS MIVEC AWD - R399 900
  • BMW X1 xDrive 20i Sportline - R435 500