Renault se eerstegenerasie-Sandero het ’n goeie reputasie as ’n bekwame maar basiese ryding opgebou.

En die nuwe Sandero, wat onlangs plaaslik sy buiging gemaak het, deel steeds dié waardes, maar is ’n aansienlik beter motor en baie meer verfynd.

Renault het die nuwe Sandero aansienlik verbeter; dit het talle moderne kenmerke – en dis mooier ook!

Boonop deel die Sandero sy gene met die bekroonde Clio, onder meer sy enjin, wat ’n indrukwekkende kragbron is. Dié 900 cc-turbopetrolenjin lewer 66 kW en 135 Nm teen ’n lae 2?500 r.p.m. – dit is vergelykbaar met ’n tradisionele 1,4 L-enjin, maar met baie beter brandstofverbruik.

Ons toetsmotor was die Dynamique-weergawe, die topmodel. Daar is talle standaard geriefskenmerke, soos lugverkoeling, elektriese vensters, kragstuur, ’n klankstelsel met Bluetooth en ritbeheer. Die binne-afwerking is ook baie beter as tevore en die Sandero voel goed gebou.

Nog ’n groot trekpleister is die motortjie se veiligheidskenmerke, wat elektroniese stabiliteitsprogram (ESP), wegtrekbeheer teen opdraandes en ABS-remme met remkraghulp insluit. Die Dynamique-weergawe het ook vier lugsakke.

Die Sandero se hantering is heel skaflik, terwyl die klein enjin glad nie voel of dit bo sy gewigsklas boks nie. Verder is die ritgehalte goed en voel hy ook stewig op die pad.

Ons dink die Sandero is een van die beste kopies in sy klas. Dit bied regtig goeie waarde vir geld en jy kry ’n moderne motor met die jongste tegnologie, wat boonop baie veilig is. Wat die Sandero ook ’n aantreklike opsie vir ’n gesinsmotor maak, is dat daar baie spasie binnelangs asook ’n redelike bagasieruim is.

Welgedaan, Renault!

Prys: R141 500

Enjin: 900 cc

Krag: 66 kW teen 5 250 r.p.m.

Wringkrag: 135 Nm teen 2 500 r.p.m.

Topspoed: 175 km/h

0-100 km/h: 11,1 sekondes

Gemiddelde brandstofverbruik: 5,2 L/100 km

Mededingers: Ford Figo en VW Polo Vivo

sandero-2

sandero-3