Model: Renault Clio Turbo Expression

Die nuwe Renault Clio is regtig mooi! Dit is beslis sexier as sy mededingers waaronder die Ford Fiesta en VW Polo tel. Waar ook al jy met die Clio ry, trek dit aandag! Boonop het dit ’n indrukwekkende drie-silinder turbo-enjin wat suinig is met brandstofverbruik.

Maar, die Clio is nie net ’n mooi gesiggie nie, want dit bied eintlik baie goeie waarde vir geld. Dit het ’n hoë vlak van standaardtoerusting waaronder satelliet-navigasie en ’n interaktiewe kommunikasiestelsel waarmee jy onder meer die radio en Bluetooth-konnektiwiteit kan beheer.

Ander standaardkenmerke sluit in lugversorging, elektriese vensters, elektriese, kantspieëltjies en kragstuur. Nes ander Renault-modelle is die Clio baie veilig ook, met al die nodig veiligheidskenmerke soos lugsakke en ABS-remme.

Die binne-afwerking is ook glad nie sleg nie, terwyl daar genoegsame ruimte binnelangs is.

Ook indrukwekkend is die Clio se 0,9 L-turbo-petrolenjin amper soortgelyke kraglewering as ‘n gewone en vorige-geslag 1,4 l-enjin lewer. In stadsomstandighede en in verkeer kwyt die Clio hom goed van sy taak. En hoewel jy op die oop pad jou voet moet neersit om die Clio se klein enjintjie te laat werk, voel dit darem nie asof dit te veel sukkel nie. Op die keper beskou, bied die Clio regtig waarde vir geld en is dit ’n sterk mededinger as jy na ’n kompakte en stylvolle luikrugmotor soek. Boonop kom die Clio met ’n drie-jaar-/45 000 km-diensplan en ’n vyf-jaar-/150 000 km-waarborg.

  • PRYS: R174 900
  • ENJIN: 898 cc
  • KRAG: 66 kw @ 5 250 r/min
  • WRINGKRAG: 135 Nm @ 2 500 r/min
  • GEMIDDELDE BRANDSTOFVERBRUIK: 4,5 L/100 km

- Wilmer Müller

clio-agter clio-binne