Blitsbukse is gewild onder Suid-Afrikaners. Om net ’n voorbeeld te noem: die Volkswagen Golf GTI is die topverkoper wat Golf-modelle betref. [post-slider]Voorkomsgewys is daar onder meer nuwe wiele, ’n herontwerpte sierrooster en buffers, GTI-kentekens en donkerder agterligte. Binne is die afwerking ook opgeknap en is daar ’n nuwe raakskermklankstelsel. Danksy ’n paar slim witjasse by Volkswagen is die Polo GTI ook ietwat ligter as tevore, wat uiteraard help met verrigting en beter brandstofverbruik. Die groot nuus is natuurlik die 1,8 L-turbopetrolenjin wat ’n stewige 141 kW uitskop. Ons toetsmodel het Volkswagen se seepgladde sewegang outomatiese ratkas (met ’n dubbelkoppelaar) gehad, en vir dié model word wringkrag tot 250 Nm beperk, terwyl die handratweergawe 320 Nm ontwikkel. En natuurlik is dié GTI’tjie haastig en draf dit 0-100 km/h in 6,7 sekondes kaf.

'Dit klou om draaie en dit voel asof jy altyd in beheer is.'

Die Polo GTI is ’n heerlike ryding, want dis nie oorhaastig in alledaagse stadsverkeer nie en is regtig maklik om mee saam te leef. Op die ooppad is die blitsige Polo vlugvoetig en baie stabiel. Dit klou om draaie en dit voel asof jy altyd in beheer is.

Dit is veral te danke aan VW se XDS-stelsel, wat met die motor se ABS-remme werk. In wese beteken dit wanneer jy ’n draai aandurf, sal ’n rekenaartjie een van die binnewiele vinnig en liggies vasknyp. Daar is ook ’n elektroniese sluitewenaar op die vooras wat krag na die buitewiel kan kanaliseer (vir beter vastrap) wanneer jy vinnig om ’n draai gaan.

Slotsom

Wanneer ’n mens agter die stuur van die Polo GTI is, wonder jy of dit regtig nodig is om meer as R400 000 aan die Golf GTI te bestee. Ja, dit het ’n klein bietjie minder ruimte, maar daar is oorgenoeg bagasieruimte terwyl vier volwasse passasiers in die motor pas.

Dié witwarm Polo is ’n waardige draer van die sportiewe GTI-kroon. Jy sal soms voel asof jy ’n renjaer is, maar wanneer jy besadig moet ry (wat die meeste van die tyd is) is dit steeds ’n baie bevredigende ryding. Nes alle Volkswagens, is die bougehalte en binneafwerking die beste in sy klas en voel dit soms meer na ’n Audi-produk.

Prys: R328 900

Enjin: 1,8 L turbopetrol

Krag: 141 kW

Wringkrag: 250 Nm

0-100 km/h: 6,7 sekondes

Topspoed: 237 km/h