Dis gewoonlik niks meer as ’n mooi gesiggie nie.

Met die eerste oogopslag blyk dit dieselfde geval met die Peugeot RCZ te wees. Die 19-duim-allooiwiele, verstelbare drukvlerk agter, slanke lyne, dubbele uitlaatpype en swart panoramiese dak word netjies in die 4,2 x 1,3 m-lyfie gepak; dit is moontlik een van die sexyste motors wat jy op die pad sal aantref.

RCZ_2013_041

Maar die pret hou nie daar op nie. In die RCZ se binneruim sal jy opmerk die tema van buite word binne voortgesit. Dit het sagte leer, hoëgehalte-plastiek, ’n groot, soliede leerstuurwiel en ’n wonderlike klankstelsel.

Teen hierdie tyd het ek gedink ek sou dit kon hanteer as die enjin vrot was. Ek sou dit dan net teen 60 km/h bestuur en langs die strand parkeer om ’n bietjie te spog. Maar wanneer jy die motor aanskakel, begin die pret eers. Die 1,6 L-enjin is stil en loop soos ’n droom. Maar sodra jy die petrolpedaal ’n bietjie dieper trap, kry die RCZ lewe. Dit het hope krag in al ses ratte; jy sal ander maklik ore kan aansit. Hoe harder jy die motor druk, hoe beter raak die verrigting. Dit hanteer ook verbasend maklik teen hoë spoed.

Die agtersitplek is net vir kleuters bedoel, maar kan platvou vir ekstra bagasieruimte. Maar verbasend genoeg vir ’n sportkoepee (boonop ’n Franse een) is die bagasiebak buitengewoon ruim; dit sluk ’n stootwaentjie en sowat ses sakke kruideniersware met gemak in.

Dit was liefde met die eerste oogopslag en dit was baie moeilik om die RCZ vaarwel te roep. Moenie huiwer as dit een van die opsies op jou kooplys is nie. Maak net seker jy durf ’n lang rit op die oop pad met hom aan!

Prys: R 524 000

  • Model: Peugeot RCZ 1,6L
  • Enjin: 1,6 L; 147 kW; 275 Nm
  • Verrigting: 0-100 km/h in 7,5 s.; topspoed 240 km/h, 6,7 L/ 100 km
  • Mededingers: Audi TT, BMW Z4, Mercedes SLK, Toyota 86

- Jeremy Petersen

RCZ_2013_013