[post-slider]Die nuwe 308 word wêreldwyd geag as een van die beste Peugeots tot nog toe – dit is immers ’n motor wat die VW Golf die stryd moet aansê. ’n Mens kan jouself verskoon as jy die vorige 308 misgekyk het, want dit het lomp gelyk. Die nuwe model wat wel ’n ietwat konserwatiewe voorkoms het, lyk uiters elegant. Die GT Line lyk ook effens sportiewer danksy aantreklike 17 duim-wiele, twee sportiewe uitlaatpype agter en kantspieëls met ’n blinkswart afwerking.

'Binne voel die 308 luuks en kom die afwerking as topgehalte voor.'

Binne voel die 308 luuks en kom die afwerking as topgehalte voor terwyl dit ook al die nodige luukse- en geriefskenmerke het. Die instrumente is in minimalistiese ontwerp en die instrumentepaneel is regtig mooi – dit gee amper ’n kalmerende Zen-gevoel.

Met die eerste oogopslag tref dit jou daar is omtrent geen knoppies nie – nie eens vir die klimaatbeheer nie. Daar is ’n sentrale raakskerm wat gewoonlik net kenmerke soos die klankstelsel beheer, maar in die 308 se geval, sluit dit ’n modus in waar jy die temperatuur en waaierspoed ook verstel. Dit is nogal iets om aan gewoond te raak, en dit was veral aan die begin ’n bietjie moeilik om verstellings te doen terwyl jy bestuur.

Na ons mening is dit die grootste kritiek teen die 308, en sou ons ons ’n meer konvensionele benadering met draaiknoppies vir die klimaatbeheer verkies het. Andersins is die ruim kajuit gerieflik, met oorgenoeg ruimte vir vier volwassenes. Een van die 308 se indrukwekkendste kenmerke is sy 1,2 L turbopetrolenjin.

'Die 308 se enjin voel sportief en wakker.'

Soos dit met hedendaagse enjintegnologie gaan, is dit mos die neiging om ’n motor met ’n klein kapasiteitsenjin toe te rus wat baie woema uitskop en terselfdertyd goeie brandstofverbruik lewer.

Die 308 se enjin voel sportief en wakker – dit skop immers 103 kW se krag en 205 Nm se wringkrag uit. As jy jou voet neersit is die krag onmiddellik daar en die handratkas se skakeling is glad en sekuur.

Slotsom

Peugeot het die afgelope paar jaar wakkergeskrik en dié Franse vervaardiger se naverkoopdiens is glo ook nou beter as tevore.

Boonop hoef min van sy huidige modelle vir enige van hul mededingers terug te staan – die 308 is weer ’n bewys hiervan. Dis ’n stylvolle motor met goeie bougehalte, ’n gemaklike rit en ’n uitstekende kragbron.

As jy ’n ruim luikrugmotor oorweeg is dit die moeite werd om die 308 te toetsbestuur – dit sal nie ’n mors van jou tyd wees nie.

  • Model: Peugeot 308 GT Line PureTech
  • Prys: R329 900
  • Enjin: 1,2 L turbopetrol
  • Krag: 96 kW @ 5 500 r/min
  • Wringkrag: 230 Nm @ 1 750 r/min
  • Gemiddelde verbruik: 6,0 L/100 km (6,5 L/100 km soos deur ons getoets)
  • Mededingers: VW Golf, Ford Focus, Mazda3