Toetsmodel: Peugeot 3008 2.0 Hdi

Die oorhoofse projektor wat stadig uit sy wegkruipplekkie opskuif, het my opgewonde gehad nog voor ek my voet op die versneller gesit het. ’n Mens kan ook lekker met hierdie kenmerk rondspeel. Jy kan sy projeksie maklik rondbeweeg sodat dit die bestuurder perfek pas. Ongelukkig vertoon dit net jou spoed en volgafstand. Persoonlik sou ek die brandstofverbruik en ’n blindekol-waarskuwing ook waardeer het. Die res van die kajuit is lekker uitgelê.

Peugeot gebruik deesdae met al hul motors lekker duursame materiaal en dit verleen aan hul motors ’n luukse gevoel. Die rithoogte is perfek, maar dit word verwag van ’n oorkruisvoertuig.

Die enjin het lekker baie wringkrag en in sportmodus woeker hierdie motor lekker op die teerpad. Dis nou as jy eers die sportmodus-knoppie in die hande kan kry. Dis baie klein langs die ratversteller aangebring, iets waarna Peugeot gerus kan kyk. Maar die ‘S’ op die instrumentpaneel wat aandui die ratkas is in sportmodus, is so klein dat ek dit eers nie raakgesien het nie.

Dit is egter net ontwerpkwessies en doen glad nie afbreuk aan hoe die motor bestuur nie – en bestuur hy nie lekker nie! Met die nuwe ontwerpstyl en die lekker rit wat die motor verskaf, is hierdie ryding beslis op my wenslysie.

Slotsom

Met die mededinging in dié klas wat ál strawwer word, gaan kopers moeilik kan kies, maar dis ’n goeie ding. Hoe mededingender die motormaatskappye raak, hoe beter vir verbruikers. Vir enige aanhangers van Franse motors (ek ingesluit) is hierdie oorkruisvoertuig ’n baie goeie keuse as jy nie soos al die ander motoriste in Suid-Afrika ’n Koreaanse wa wil koop nie.

PRYS R410 300

ENJIN 2,0 L-diesel; 120 kW, 340 Nm

RATKAS sesgang-outomaties

VERRIGTING fabriekspesifikasie nie beskikbaar nie

VERBRUIK 6,1 L/100km gekombineerde siklus volgens Peugeot, 7,4 L/100km getoets deur Huisgenoot

MEDEDINGERS Hyundai iX35 2.0 NU Automatic

- Anton Vermeulen

peugeot-2

peugeot-3