Opel het sowat twee dekades gelede die Corsa vir die eerste keer aan Suid-Afrikaners bekendgestel. Vandag se Corsa is ’n gesofistikeerde ryding, luuks en met moderne tegnologie, in teenstelling met die een van destyds wat ’n basiese, sakpas-ryding was.[post-slider]Die Corsa het nog altyd goed gevaar, maar die afgelope paar jaar moes dit in die skadu van die VW Polo en die Ford Fiesta leef. Met die jongste model hoef dit egter nie meer so te wees nie, want Opel het nuwe lewe in die Corsa geblaas. Op die oog af is dit herkenbaar as ’n Corsa, maar dit lyk spoggeriger as ooit tevore aangesien die ontwerp elegant en sportief is. Dit deel ook ontwerpskenmerke met Opel se oulike Adam – soos die diep, “glimlag”-sierrooster. Ons toetsmodel was die Cosmo-weergawe wat kenmerke soos aantreklike allooiwiele en bi-xenon-hoofligte het.

'Binne het Opel die Adam-ontwerp nagedoen.'

Binne het Opel die Adam-ontwerp nagedoen: dis modern en netjies uitgelê en daar is goeie gehalte plastiek en materiale. Die Cosmo-model het elke denkbare geriefs- en tegnologiekenmerk. Opel se IntelliLink-multimediastelsel met ’n groot raakskerm in die middel van die instrumentepaneel is ook daar. Dit werk maklik en daar is kontroles op die stuurwiel waarmee jy die klankstelsel se funksies kan beheer.

Dit is ’n gerieflike motor met genoeg ruimte vir vier passasiers en die bagasieruim van 285 L vergelyk goed met sy mededingers. Die lysie van veiligheidskenmerke is lank en die voertuig het onder meer ses lugsakke, stabiliteitsbeheer en ABS-remme.

Soos met sy mededingers het die nuwe Corsa ’n moderne, kleinkapasiteit turbo-enjin wat goeie verrigting en brandstofverbruik bied. Die 1,0 L-kragbron is ’n juweel en kwyt hom goed van sy taak – daar is genoeg krag op aandrang van die bestuurder, ongeag die omstandighede. Die rit is gerieflik en dis veral prettig om in die stad te bestuur. Hantering is goed en die sesspoed-handratkas bied akkurate en gladde wisselings. Maak nie saak hoe hard die enjin moet werk nie, dis stil en sukkel nooit.

Slotsom

Die nuwe Corsa het baie om van te hou en dit is ’n goeie verbetering op sy voorganger. Hy hoef nie meer skaam te wees om sy gesig saam met die Polo en Fiesta te wys nie.

Boonop is sy prys mededingend en kry ’n mens baie motor vir jou geld. Dis ’n veilige ryding vir alledaagse gebruik en lyk ook mooi.

  • Model: Opel Corsa 1,0T Cosmo
  • Prys: R236 300
  • Enjin: 1,0 L-turbo-petrol
  • Krag: 85 kW @ 5 000-6 000 r/min
  • Wringkrag: 170 Nm @ 1 800-4 500 r/min
  • Gemiddelde gebruik: 5,0 L/100 km (5,6 L soos deur Huisgenoot getoets)
  • Mededingers: VW Polo, Ford Fiesta, Hyundai i20