[post-slider]

Die Adam is Opel se byderwetse driedeur-luikrugmodel en die modemense sal dol wees daarop, want dis uiters stylvol.

Die Citroën DS3, en selfs ook die intreevlak-weergawes van die Audi A1, is onder die Adam se ander teëstanders. Net soos die meeste klein, hedendaagse luikrugmotortjies, het die Adam ’n klein, energieke turbo-enjin. Sy puik 1.0 L-turbo-petrolenjin ontwikkel 85 kW en 170 Nm, en dit is baie tuis in die Adam. Die wringkraglewering is werklik goed en die Adam sukkel nooit om ander motors verby te steek nie en ook nie om, wanneer nodig, soos blits te versnel nie. Die rit is oor die algemeen sportief en die blitsigheid daarvan sal beslis die kinderrenjaer in jou te voorskyn bring. Die enjin is ook aan ’n gladde ses-gang-handratratkas gekoppel.

'Die Adam is van nature eintlik ’n stadsblits.'

Die Adam is van nature eintlik ’n stadsblits, en, danksy sy kompakte afmetings, is dit ’n groot plesier om met hom in die stad rond te ry, en hy parkeer doodmaklik.

Die Adam sal jou ook nie bankrot maak by die petrolpomp nie, aangesien Opel daarop aanspraak maak dat die gesamentlike brandstofverbruik slegs 5,3 L/100 km is.

Die kajuit het ’n topgehalte-gevoel en dit het die gevoel van ’n veel duurder motor – hy is selfs opgewasse teen die heelwat duurder Mini Cooper.

As jy egter op die uitkyk is na ’n gesinsmotor en jy soek ’n Opel, moet jy liewer die nuwe Opel oorweeg, want, as gevolg van die Adam se baie klein afmetings, is sy binnekant beknop. Hoewel daar genoeg ruimte is vir die voorste passasiers, sal die agterste passasiers nie werklik gemaklik wees nie. Teen 170 L is die kattebakruimte beperk, maar hy het heelwat plekke waar goed gepak kan word en daar is ook bekerhouers.

Die motor wat ons getoets het, was die Glam-model wat aan die bopunt van die reeks is, en hy het ’n lang lys standaardkenmerke, wat 17 duim-allooivellings, LED-ligte vir die dag, LED-remligte en sensors vir parkering insluit. Daar is ook ’n waarskuwingstelsel vir blinde kolle en dit is werklik nuttig in die verkeer, want dit waarsku jou as daar ’n ander motor in jou blinde kol is wanneer jy van baan wil verander.

Jy word ook bederf met ’n satellietnavigasiestelsel, elektroniese klimaatbeheerstelsel, agt veelkleurige ligverstellings vir atmosfeer en nog baie meer!

Die Adam beskik ook oor uitmuntende veiligheidstoerusting, insluitend ses lugsakke, ABS-sluitweerremme, EBD (elektroniese remkragverspreiding), ESP (elektroniese stabiliteitsbeheer) en anti-gly-regulering wat jou help om teen 'n bult weg te trek.

Slotsom

Die Adam is beslis ’n koel motor, met hope persoonlikheid – dit alles dra by tot die pret om hom te bestuur. Sy driesilinderenjin en turbo-kragstelsel is ook indrukwekkend. Hy het beslis sterstatus as motor om elke dag in die stad en op die oop pad mee te ry.

Jy moet egter in gedagte hou dat dit ’n eenpersoonsmotor is: ’n enkelouer of jong paar sonder kinders.

Die beste koop is waarskynlik die middelreeks-Jam-model wat ongeveer R23 000 minder kos as die Glam-nabootser, wat R232 000 kos.

Model: Opel Adam Glam

Prys: R232 900

Enjin: 1 L, driesilinder, turbo

Krag: 85 kW

Wringkrag: 170 Nm

0-100 km/h: 9,9 sekondes

Brandstofgebruik: 5,1 L/100 km