Die Nissan X-Trail was nog altyd baie gewild by Suid-Afrikaanse motorkopers. By die nuwe model, wat in 2014 bekendgestel is, is die boksagtige ontwerp van sy voorganger verruil vir ’n sagter ontwerp wat dié van die jongste Qashqai naboots.

[post-slider]

Maar die derdegenerasie-X-Trail het nie net ’n mooi gesiggie nie; nes die voriges, kan die viertrekmodelle steeds die veld ook baasraak. Die binnekant is ook steeds ruim en daar is selfs ’n sewe-sitplek-opsie. Die nuwe X-Trail het ’n bietjie meer grondvryhoogte, maar sy algehele hoogte het ’n bietjie gekrimp. Nissan het ook daarin geslaag om die algehele gewig van die X-Trail met 90 kg te verminder, alhoewel hulle in der waarheid ’n groter voertuig as voorheen gebou het. Die binneste ruimte is ook beter, terwyl die praktiese aspek van die binneruim ’n stappie verder gevoer is. Sewe sitplekke is opsioneel by die X-Trail, soos jy van ’n groot sportnuts sou verwag, en die laaste ry sitplekke is redelik gemaklik, maar jy sou eintlik net klein kindertjies daar wou laat sit. Die bagasieruim is groot: 550 L, en wanneer die sitplekke platgeslaan is, vergroot dit tot 1 405 L. Die standaardtoerusting is ordentlik en dit het al die noodsaaklike kenmerke vir gerief.

Nissan het ook nie die veiligheidsaspek afgeskeep nie.

Nissan het ook nie die veiligheidsaspek afgeskeep nie, want die 2,0 L-intreemodel het steeds ABS-remme, traksiebeheer, lugsakke oral en hellingwegtrek-bystand.

Die Nissan X-Trail bied steeds ’n uiters gerieflike rit, dit gaan saggies oor hobbels en pak grondpaaie aan met selfvertroue.

Dit voel miskien nie besonder sportief nie, maar ’n mens moet in gedagte hou dat dit ’n gerieflike, geskikte gesinsmotor is.

Slotsom

Hy ry gemaklik, is ruim en prakties, en kan die ruwe terrein baasraak wat in sy pad kom. Nissan het ook daarin geslaag om die prys mededingend te hou. Dit bly ’n goeie keuse as ’n sportnutsvoertuig vir die gesin wat iets van alles soek.

  • Model: Nissan X-Trail 2,0 SE 4x2
  • Prys: R327 700
  • Enjin: 2,0 L vierslinder petrol
  • Krag: 106 kW
  • Wringkrag: 200 Nm
  • 0-100 km/h: 11,1 sek.
  • Brandstofverbruik: 8,3 L/100km