Die vorige weergawe van Nissan se Qashqai was uiters gewild; dié vervaardiger het die segment vir kompakte sportnutsvoertuie so te sê uitgevind. En dis vir enige motorvervaardiger moeilik om ’n opvolger vir ’n baie gewilde modelreeks te ontwerp, maar dit lyk asof Nissan dit met die tweedegenerasie- Qashqai vermag.

[post-slider]

Wat veral opval is dat die Qashqai ’n aantreklike ryding en is steeds ’n kompakte sportnutsvoertuig. Boonop voel die bougehalte beter as sy voorganger, wat ’n goeie motor is in eie reg. Binnelangs lyk dit ook heel goed; ons toetsmotor het Nissan se opsionele Techno Pack gehad, wat koel speelgoed insluit soos satellietnavigasie, verhitte kantspieëls, kameras wat met parkering help en die Nissan Connect-stelsel. Dis nuttig vir slimfoon-konnektiwiteit, en het koel ingeboude apps soos teks-tot-spraak-omskakeling, Facebook en Google. Daar is ook Bluetooth en USB. Die Qashqai is ook ruim binne-in met genoeg beenruimte vir passasiers agter. Die kattebak van 430 L is ook indrukwekkend; dit het ’n plat laaivloer en ’n slim vals vloer wat ook as ’n afskorting dien. Met die agtersitplekke platgevou, beslaan die kattebak 1 585 L. Boonop is daar bêreplek onder die kattebak se vloer om die pakkierak te bêre.

Dit is gemaklik en ’n plesier om te bestuur.

Ons toetsmotor het die 1,6 L-turbodieselenjin gehad. Dit het oorgenoeg woema en het nooit lui gevoel nie. Die enjin is gekoppel aan Nissan se X-tronic palwisselende ratkas, wat hom goed van sy taak kwyt, maar nie so glad en verfynd is soos ander, moderne ratkaste nie.

Die Qashqai het ’n ferm rit en dit voel selfs sportief, terwyl dit op die oop pad uitstekend vaar. Oor die algemeen is dit gemaklik en ’n plesier om te bestuur.

Slotsom

Nissan het dit reggekry om op ’n reeds indrukwekkende motor te verbeter: Nie net is die nuweling stylvol nie; dit het ook uitstekende bougehalte. Dit is oor die algemeen ’n wonderlike motor. Met ’n goeie enjin en oorgenoeg tegno-speelgoed behoort dit baie suksesvol te wees.

Prys: R382 500

Enjin: 1,6 L-viersilinder-turbodiesel

Krag: 96 kW teen 4 000 r.p.m.

Wringkrag: 320 Nm teen 1 750 r.p.m.

0-100 km/h: 11,1 s. (volgens Nissan)

Brandstofverbruik: 4,9 L/100 km (volgens Nissan)