Die jongste toevoeging tot hierdie baie mededingende segment is die Mitsubishi Mirage, wat teen die Hyundai Grand i10 en Renault Sandero sal meeding.

[post-slider]

Dit is ook die eerste keer dat Mitsubishi plaaslik hierdie segment betree; hulle is immers bekender vir hul bakkies en sportnutsvoertuie.

Dat Mirage ’n Mitsubishi is, beteken dat dit stewig gebou is en betroubaar behoort te wees.

Die 1,2 GLX-model is propvol kenmerke, soos 15-duim-allooiwiele, ABS-remme met remkragverspreiding, lugsakke voor, elektriese vensters, ’n sleutellose aansitter, lugversorging, klimaatbeheer en USB-verbinding.

Afgesien van die Mirage se kompakte afmetings, voel dit ruim binnelangs. Die instrumentpaneel het ’n netjiese ontwerp, terwyl die bougehalte ook goed is. Die kattebak is nie van die grootste nie; dit beslaan 235 L, maar die agtersitplek kan 60:40 platvou om die laaikapasiteit te verhoog.

Die 1,2 L-petrolenjin ontwikkel 57 kW krag en 100 Nm wringkrag. Al voel dit soms effe lig in die broek, is dit heel doeltreffend. En brandstofverbruik is een van die Mirage, wat net 825 kg weeg, se sterkpunte. Volgens Mitsubishi is die verbruik 4,9 L/100 km.

Slotsom

Die Mirage is beslis ’n welkome toevoeging tot die intreevlaksegment en behoort op ’n dag-tot-dag-basis hom goed van sy taak te kwyt. Dit is perfek vir stadsverkeer en sy suinige verbruik sal jou sak goed pas.

Boonop voeg Mitsubishi ook ’n jaar se omvattende versekering by wanneer jy die Mirage koop.

Dit is nou dalk nie die opwindendste motor in sy segment nie, maar dit is ’n goeie motor wat jou omtrent nooit in die steek sal laat nie.

Model: Mitsubishi Mirage 1,2 GLX

Enjin: 1,2 L

Krag: 57 kW teen 6 000 r.p.m.

Wringkrag: 100 Nm teen 4 000 r.p.m.

Ratkas: Vyfganghandrat

0-100 km/h: 12 s.

Brandstofverbruik: 4,9 L/100 km

Prys: R139 900