Model: Mitsubishi ASX 2.0 MP1

As ’n ma wat tot vier uur per dag op pad is met ’n kind aan boord, kan ek dit nie bekostig om te poer-poer in ’n blikkarretjie wat sal flou val ten aanskoue van snelweë en superma’s se snoetbussies nie.

Dit was dus met ’n vaste doel voor oë dat ek die Mitsubishi ASX 2.0 MP1 getoetsbestuur het: om te kyk hoe vinnig, veilig en gemaklik ek van my huis, van waar ek halfsewe soggens vertrek, tot by die skool kan kom.

Eerstens, die ASX is ’n sportnutsvoertuig (SNV) en as jy al gewonder het, ASX staan vir Active Sporty Crossover, wat vir my beteken dat dit dinge kan doen wat ’n gewone stasiewa nie kan nie, en dan ook baie sexier is. En die ASX is pragtig en beskikbaar in die kleure Cool Silver-metaal, Quartz Brown-metaal, Titanium Grey en White Pearl. My toetsvoertuig was Red-metaal. Die ASX het ’n sportiewe snoet-in-die-lug-voorkoms en die leersitplekke en leerbekleedsel vir die stuurwiel en rathefboom se kop sorg vir ’n luukse gevoel.

Mooi maak egter niks saak as ’n mens nie vinnig en veilig kan ry nie. Die ASX 2.0 MP1 wat ek onder hande gehad het, het ’n vyfganghandratkas, ’n 2 L-petrolenjin en wek 110 kW teen 6 000 r.p.m. en 197 Nm. se wringkrag teen 4 200 r.p.m. op. Hoe al hierdie tegniese taal op die oop pad vertaal word, is as volg: Die motor het omtrent onmiddellik krag as jy in eerste rat wegtrek en die motor trek stewig en vol selfvertroue weg. Wat ’n mens veral nie wil hê nie, is ’n senuweeagtige swak enjin wat nie vinnig uit die motorhuis kan kom wanneer jy reeds laat is vir skool nie.

Die ratwisseling is seepglad, en die ASX het gemaklik aangepas by al die ratte tot in vyfde - sonder dat die krag enigsins daaronder gely het.

In motors met kleiner enjins en lae wringkrag gebeur dit dikwels dat wanneer jy enigsins die voertuig woema wil gee, jy in ’n laer rat moet verbysteek of soms net na ’n laer rat moet verwissel sodat jy darem die illusie kan skep van spoedvaardigheid op pad. Dis glad nie nodig met die ASX nie. Ek kon verbysteek in vyfde rat sonder om krag en spoed te verloor en ek moes net keer of ek het in ’n oogknip ’n rustige 160 km/h behaal.

Die motor is vinnig en voel veilig. Daarmee bedoel ek daar is geen rukkings en skokkende stollings tydens ratwisseling nie. Die wind en groot busse wat verbyjaag het die ASX min geraak en die voertuig is dan ook toegerus met als wat hom veilig kan maak. Daar is sewe lugsakke, Mitsubishi se Dakar-ontwikkelde veiligheidstelsel Reinforced Impact Safety Evolution, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en daar is Isofix-hegpunte vir kinderstoeltjies.

Vir diegene wat nie oë agter ons kop het of ’n nek so slank om te kan omdraai en kyk nie, is daar ook hulp as dit kom by trurat-ry. Die voertuig beskik oor ’n trukamera wat my baie gehelp het toe ek ’n hopie gruis en bakstene moes probeer misry.

Aan knoppies en oulike, nuttige funksies skiet die voertuig nie tekort nie. Ek was veral dol op die inligtingsknoppie wat vir my vertel oor hoeveel kilometer ek moet petrol ingooi, en dit sê selfs vir jou wanneer die voertuig versien moet word.

Omdat ek kort is, is sitplekverstellings vir my baie belangrik. Ek is bly om te sê die sitplek kan agtertoe en vorentoe skuif, maar veral ook op en af. Die rug kan ook verstel. Die motor het ook ’n sleutellose aanskakelaar; daarom kan jy jou sleutel in jou handsak hou en hoef jy nie met ’n hand vol sleutels en ’n kind aan die ander hand te sukkel nie. Wat ek egter nie kon verstaan het nie, is waarom die aanskakelaar aan die linkerkant van die stuurwiel aangebring is. Dit is lomp en ’n mens sukkel aanvanklik om dit te kry.

Wat die klank- en selfoongeriewe betref, het die ASX-model wat ek getoets het, alles wat sing, dans en lui. Ek het nie besef die voertuig spog met ’n spoggerige Rockford Fosgate-klankstelsel nie en het dit natuurlik op hoë volume aangeskakel en is byna uit die voertuig geblaas, maar die klank is regtig wonderlik, en ’n mens moet net eenvoudig musiek hard speel. Daar is ’n Bluetooth-konneksie vir jou selfoon sodat jy handvry kan praat en die foon kan van die stuurwiel beheer word. Ongelukkig is die USB-poort, wat ek gebruik wanneer ek my selfoonbattery wil laai, in die middelkonsole geleë. Dis irriterend om hier in die middel te moet sukkel om ’n USB in ’n klein gaatjie te druk; ek sou dit voor by die CD-speler verkies het. Die lugreëling se beheer sou ek ook hoër verkies het sodat ek dit makliker kan raaksien en raakvat, maar ek het daarvan gehou dat die kontrole in grade in verdeel is en nie bloot net “warm” of “koud” nie.

Ek ry lang afstande na my kind se skool toe en die Mitsubishi ASX 2.0 MP1 het ’n stelsel wat jou deurentyd inlig hoeveel brandstof jy verbruik. So kon ek duidelik sien dat ek meer petrol verbruik hoe vinniger ek ry. Volgens Mitsubishi is die ASX se amptelike brandstofverbruik 7,5 L/100 km of 13,3 km/L.

Nog ’n pluspunt van die ASX is die kantspeeltjies wat nie net kan verhit nie, maar heel oulik toevou wanneer mens die voertuig afskakel. Dit skakel die kans uit dat ’n verbyganger dit kan hak wanneer jy iewers parkeer. Volgens Mitsubishi is dié nuttige voertuig ewe gewild by mans en vroue, maar vir my is dit die perfekte ma-kar: maklik genoeg om te parkeer, veilig genoeg vir kinders rondry, maar steeds mooi en sexy genoeg om jou na ’n “yummy mommy” laat voel.

Glo my, ’n ma wat kindertaxi ry, speel nie met kabouters nie. Maar as dit moet, sal sy heel moontlik al wat ’n kabouter is ook kan inlaai en veilig huis toe bring, so groot en ruim is die kompakte ASX binne!

Daar is vier modelle is die ASX-reeks. Hulle pryse wissel R284 900 tot R349 900. Hulle het al vier dieselfde enjin maar die luukse kenmerke verskil. Ek het die Mitsubishi ASX GLS handrat met die Rockford Fosgate-klankstelsel toetsbestuur - sy prys is R322 900.

- Erla Diedericks

asx-2

asx-3