Model: Mini Cooper S Paceman

Nadat Mini vanjaar en verlede jaar die Dakar-tydren gewen het, het die Mini-handelsmerk aansienlik in statuur gegroei. Dis nie meer net ’n oulike karretjie waarmee ryk huisvroue en jong laaities rondjaag nie. Al weet ons al lankal dat ’n Mini homself goed gedra in ’n draai, gee die Dakar-oorwinnings ekstra geloofwaardigheid aan dié handelsmerk.

Ontwerpsgewys lyk die Paceman baie goed. Dit herinner nogal aan die Range Rover Evoque. Groot wiele, baie groot deure en kragtige bakwerk-lyne skep ’n baie mooi geheelbeeld. Die motor lyk kragtig en stylvol.

Mini bied ook hope kleur- en bekleedselkeuses sodat kopers hul motor kan aanpas na hul smaak. Die kajuit herinner baie aan die eerste Mini’s. Die groot snelheidsmeter in die middel van die instrumentpaneel is egter bietjie aangepas. Dit dien nou sommer die doel van ritrekenaar en mediasentrum. Hier kan mens die wortels van BMW duidelik sien. Die beheerstelsel lyk baie dieselfde as dié in BMW-motors. Dis net jammer dat die stokkie waarmee die stelsel aangedryf word, ’n bietjie aan die klein kant is. Dit voel ongemaklik om mee te werk.

Die sportnuts lyk nie net goed nie; hy ry ook baie lekker. Die Cooper S se 135 kW-enjin is hope pret. Selfs toe die motor gelaai is met bagasie, ’n tweejarige en twee volwassenes, het die Paceman geen probleem gehad teen styl bulte nie. Mens kan amper nie glo dat daar net ’n 1600 onder die enjinkap skuil nie.

Slotsom

As jy baie graag ’n Range Rover Evoque wil hê, maar soos ek dit nooit sal kan bekostig nie, is dié Mini vir jou.

PRYS R366 000

ENJIN 1,6 L-viersilinderpetrol; 135 kW, 240 Nm

VERRIGTING 0-100 km/h in 7,5 sek., topspoed 217 km/h; 6,6 L/100km

MEDEDINGERS Nissan Juke 1,6 Acenta+, BMW X1 sDrive 18i Standard, Range Rover Evoque

ONS HOU VAN Lekker sportief met hope krag. Baie ruimte vir ’n koepee.

DIT PLA Deure is baie groot.

- Anton Vermeulen