Hoewel die CLA op Mercedes se gewilde nuwe A-klas gebaseer is, het dit nes die groter CLS ’n koepee-agtige voorkoms en is terselfdertyd ’n vierdeur-sedan.

Dit is ook Mercedes se nuwe intreevlak-sedan, veral omdat met die nuwe C-klas ietwat hoër op die prys- en luuksheidsleer is. Maar hou in gedagte dat dat die prys aansienlik opgejaag kan word deur die talle opsionele kenmerke.

Binnelangs is die CLA se ontwerp pure A-klas, met topgehalte-afwerking en ’n luukse voorkoms.

Tog is die CLA nie noodwendig ’n konvensionele gesinsmotor nie, aangesien daar veral agter beknopte sit- en kopruimte is. Maar die tamaai bagasieruim van 470 L is nogal indrukwekkend.

Die CLA het ook talle indrukwekkende tegnologiese kenmerke, onder meer ’n noodremfunksie, ’n kamera wat dophou dat jy nie agter die stuur aan die slaap raak nie en ’n stop-ry-stelsel.

Ons toetsmodel was die CLA 220 CDI, met ’n 2,1 L-turbodieselenjin wat 125?kW en 350?Nm wringkrag lewer. Daar is oorgenoeg woema en die enjin is veelsydig, maar wat veral indrukwekkend is, is die brandstofverbruik, wat volgens Mercedes glo tot onder 4 L/100 km kan daal. Verder is die sewegang outomatiese ratkas baie soepel.

As ’n alledaagse motor is die CLA nommerpas en boonop glad nie vervelig nie. Ongeag sy grootte voel die CLA of dit die prestige van die Mercedes-handelsmerk gestand doen.

Mercedes verdien ’n pluimpie vir die CLA, veral omdat dit in geen opsig vervelig is nie, maar ook omdat dit steeds ’n bloubloed-Mercedes is.

  • Model: CLA 220 CDI
  • Enjin: 2,1 L-turbodiesel
  • Krag: 125 kW teen 3 400-4 000 r.p.m.
  • Wringkrag: 350 Nm teen 1 400-3 400 r.p.m.
  • Topspoed: 230 km/h
  • 0-100 km/h: 8,2 sekondes
  • Gemiddelde brandstofverbruik: 4,5 L/100 km.
  • Prys: R438 800

cla-2

cla-3