Met die Ford Fusion se herontwerp nog vars uit die oond, kon Mazda nie lank wag met hul nuweling nie, en is hy nie mooi nie! Stylvol, klassiek en elegant, is hoe ek hierdie groot motor uit die Japannese vervaardiger se stal sal beskryf.[post-slider]As ek hom met die Ford moet vergelyk, is die Amerikaner meer macho. Ek sien ook dat ’n ouer koper liewer geld vir die Mazda6 sal uithaal.

'Groot 19 duim-allooiwiele is beslis die eerste ding wat my oog getrek het.'

Ons toetsmotor was die topmodel van die petrolenjins. Groot 19 duim-allooiwiele is beslis die eerste ding wat my oog getrek het.

Dan volg ’n mens se oë die sensuele kurwes al langs die kar se kante af. Ek moet ook byvoeg dat die agterstewe my baie herinner aan die Infinity Q50 s’n.

Dit bring my by die geweldige groot kattebak. ’n Mens kan hom eintlik herdoop tot ’n “leeuebak”, want jy gaan nie genoeg katte in die hande kan kry om daarin te pas nie.

Die ry rit was ’n bietjie teleurstellend. Ek het natuurlik baie verwag; daarom is my mening dalk effens subjektief. Dit voel of die motor in gewone stadsverkeer nie sy grootte kan baasraak nie. Hy voel lomp. Dit beteken nie die 2,5 L het nie hope krag nie. Wanneer jy jou voet neersit, dreun die enjin kwaai en laat wiel.

Dis jammer dat die ingenieurs nie hierdie motor ’n bietjie ligter laat voel het nie. Ford sowel as ander vervaardigers van groot motors kon dit uitstekend regkry; dus is dit nie ongevraagde kritiek nie.

Die ruimte is oorgenoeg. Knieruimte op die agterste sitplekke is baie meer as in die meeste mededingers. Drie volwassenes sit ook heel gemaklik agter langs mekaar.

Nog pluspunte is die i-Eloop en die uitstekende Bose-klankstelsel. Die i-Eloop is, volgens Mazda, ’n wêreldwye eerste. Elke keer dat ’n mens rem trap, word die rem-energie vasgevang en herlei om so van die elektriese stelsels in die kajuit aan te dryf, onder meer die klimaatbeheer. Dit veroorsaak minder las op die battery en enjin, wat weer lei tot beter brandstofverbruik.

Slotsom

Teen dié prys is die nuwe Mazda vol in die kol. Ongelukkig het Mazda te kampe met ’n ongelooflike sterk mededinger in die nuwe Ford Fusion. Net die tyd sal leer watter een die meeste aftrek gaan kry.

  • PRYS R399 500
  • ENJIN 2,5 L petrol; 138 kW, 250 Nm.
  • RATKAS 6-gang outomaties
  • VERBRUIK 6,6 L/100km Gekombineerde siklus volgens Mazda, 7,2 L/100km getoets deur Huisgenoot
  • MEDEDINGERS Ford Fusion, Volkswagen CC
  • ONS HOU VAN Stylvolle ontwerp buite
  • DIT PLA Dit voel effens lomp

- Anton Lourens