Mazda moet deesdae onder sy eie vaandel veg ná ’n egskeiding van Ford, maar dit lyk of dié Japannese vervaardiger nuwe lewe gekry het pleks dat hulle die slagoffer van selfbejammering geword het.

[post-slider]

Ons het pas die nuwe Mazda3, een van talle nuwe-geslag-Mazdas, se topmodel, die 2,0 Astina, toetsbestuur en ons was nogal beïndruk.

Die Mazda3 moet immers met swaargewigte soos die VW Golf en die Ford Focus meeding. Maar, met ’n treffende, slanke voorkoms is die Mazda3-luikrug nogal mooi en hoef dit selfs nie eens vir ’n duurder mededinger soos die Audi A3 terug te staan nie. Binnelangs kan ’n mens ook nie help om van die Mazda3 te hou nie, want dit voel taamlik luuks en die afwerking se gehalte is baie goed – durf ons sê dit is ’n kortkop agter dié van die toonaangewende Golf? Die paneelbord se ontwerp het skoon lyne en duursame plastiekafwerking. Boonop voel die motor ruim en bied dit goeie gemak vir vier volwassenes, terwyl die bagasieruim ook redelik groot is.

'Die Astina-weergawe is ook regtig goed toegerus.'

Die Astina-weergawe is ook regtig goed toegerus met al die nodige geriefs- en luukse kenmerke en daar is ook ’n raakskerm wat soos ’n Apple iPad lyk waarmee jy onder meer die klankstelsel beheer. Daar is ook bykomende kenmerke, soos satellietnavigasie as standaard. Die sitplekke is boonop gemaklik met genoeg ondersteuning en dit het leerafwerking.

Anders as meeste van sy mededingers wat deesdae kleinkapasiteit-turbo-enjins het, wat goeie verrigting en brandstofverbruik bied, het die Mazda3 ’n gewone tipe 2,0 L-viersilinder-petrolenjin. Dit het wel Mazda se SkyActive-tegnologie wat allerhande gewigs- en brandstofbesparingsfunksies, asook skoner uitlaatgasse, bied. Kraglewering is 121 kW en wringkrag is 210 Nm, wat glad nie te versmaai is nie, want die enjin voel wakker.

Daar is ’n sesspoed outomatiese ratkas wat hom goed van sy taak kwyt, maar dit voel nie naastenby so verfynd soos die Golf se uitstekende dubbelekoppelaar-DSG-outo nie.

Volgens Mazda behoort die gemiddelde brandstofgebruik 5,9 L per 100 km te wees, maar ons gemiddelde gebruik was sowat 7 L per 100 km.

Die Mazda3 is regtig ’n lekker motor om te bestuur en dit reageer goed op wat ook al die bestuurder daarvan verwag. Hantering is indrukwekkend en dit voel nooit lui of dat dit besig is om die pad byster te raak nie. Dit is ’n ideale alledaagse ryding, maar die Mazda3 is meer as geskik om ook die langpad aan te pak.

Die motor is ook baie veilig danksy ses lugsakke, ABS-remme en stabiliteitsbeheer, om maar net ’n paar te noem!

Slotsom

Dit is moeilik om fout te vind met die Mazda3, veral omdat daar so baie pluspunte is. Tog is die topmodel se prys van R326 300 aan die duur kant, veral as ’n mens dit vergelyk met die Focus. Maar, die Mazda3 behoort steeds in sy segment raak gesien te word weens sy aantreklike voorkoms, goeie bougehalte en sy padgedrag. Dit sal ook ’n goeie gesinsryding weens, want daar is genoeg ruimte en gerief.

Mazda verdien ’n klop op die skouer vir dit wat hulle deesdae op hul eie vermag sonder die ondersteuning van die magtige Ford-masjinerie.

  • Model: Mazda3 Astina
  • Prys: R326 300
  • Enjin: 2,0 L petrol
  • Krag: 121 kW @ 6 000 r/min
  • Wringkrag: 210 Nm @ 4 000 r/min
  • Ratkas: 6-spoed outo
  • Brandstofverbruik: 5,9 L / 100 km (gemiddeld)
  • Bagasieruim: 308 L