Ons toetsmotor was die Individual-weergawe. [post-slider] Wat jou onmiddellik van die Mazda2 opval, is sy oulike voorkoms en dit lyk selfs sportief. Jy kan die familietrekke van ander nuwegenerasie-Mazda-modelle, soos die Mazda3 en nuwe MX-5, ook in die ontwerp sien. Dit is beslis ’n motortjie wat jy gaan raaksien in die segment waarin dit spesifiek met die VW Polo, Renault Clio, Hyundai i20, Opel Corsa en Ford Fiesta meeding. Die Mazda2 se ontwerp staan gewis uit bo dié van die Polo, Fiesta en i20. Hy is ook ’n raps groter as sy voorganger, wat beteken daar is ’n bietjie meer ruimte binne. Die bagasieruim is 280 L, wat goed vergelyk met dié van sy mededingers.

'Mazda verdien ’n pluimpie vir die ontwerp van die instrumentepaneel.'

Mazda verdien ’n pluimpie vir die ontwerp van die Mazda2 se instrumentepaneel, want die seweduim-inligtingskerm en draaiknoppe vir die lugverkoeling is maklik om baas te raak. ’n Beheerknop tussen die sitplekke hanteer die inligtingskerm se funksies, wat onder meer die klankstelsel insluit.

Ander kenmerke sluit in Bluetooth, elektriese vensters, ’n leerstuurwiel en al die verwagte veiligheidskenmerke soos ABS-remme en lugsakke voor.

Wat veral die oog vang, is die Mazda2 se sportiewe ronde luginlate wat jou laat dink jy sit dalk in ’n klein sportmotor. Die gehalte van die afwerking is goed, maar hou nie kers vas by dié van die Polo nie.

Die 1,5 L-petrolenjin is op sy gemak in die Mazda2, met redelike krag om in en rondom die stad rond te blits. Dit voel egter nie heeltemal se verfynd soos die klein turbo-enjins van die Polo, Fiesta en Corsa nie. En hoewel Mazda se syfers aandui dat die gemiddelde petrolverbruik 5,5 L/100 km moet wees, het ons 7,1 L/100 km gekry. Andersins is dit ’n prettige, sportiewe motortjie. Die sesspoedhandratkas se wisselings is glad en vinnig en die algehele rit gemaklik.

Slotsom

Sjoe, as jy ’n kompakte luikrug tussen R180 000 en R220 000 moet koop, gaan dit nie ’n maklike besluit wees nie. Die meeste mededingers in hierdie prysklas is regtig goeie kopies en sal jou nie teleurstel nie. En die Mazda2 is een van die kopies wat die moeite werd sal wees.

Dit is ’n aantreklike ryding wat goed toegerus is en regtig lekker ry. Hoewel ons toetsmotor die Individual-model was, is die goedkoper Dynamic-weergawe die beter kopie.

Model: 1,5 L Individual

Prys: R211 400

Enjin: 1,5 L-petrol

Krag: 82 kW

Wringkrag:145 Nm