’n Besliste verbetering! Wel, ten minste buitelangs. Die nuwe ontwerpstyl het ná ’n ruk nogal vir my mooi gelyk. Dit laat die groot veeldoelryding van Lexus beslis baie aggressiewer lyk.

[post-slider]

Jou medebestuurders gee sommer ver al pad wanneer jy van agter aangery kom. Dit gee sommer baie meer status aan die alreeds statige voertuig. Anders as sy mededingers met hul dieselenjins hou Lexus nog by sy petrol-elektriese hibried-enijns. Dit is nie so spaarsamig soos ’n diesel nie, maar baie skoner, en brandstofverbruik is glad nie sleg nie.

Dié tweetonvoertuig sluk net 8,4 L/100 km, uitstekend vir so ’n groot ryding. Lexus beweer (op hul webtuiste) dat hierdie motor selfs 6,3 L/100 km kan haal.

Klankstelsel

Nog ’n hoogtepunt die goeie klankstelsel. Dis ’n Mark Levinson-stelsel met 15 luidsprekers, wat uitsonderlike klank lewer. Dié soort aandag aan besonderhede maak ’n mens gerus oor die res van die motor. Dis waarlik ’n plesier om dit te bestuur.

Dit is wel effe vreemd om nie enjinklank te hoor as jy die “start”-knoppie druk nie. Die elektriese motor skop sommer dadelik in, en as jy egalig en met ’n ligte voet bestuur, kan jy tot so by 60 km/h slegs op batterykrag rondbeweeg. Die V6 skop in sodra jy ’n bietjie meer krag benodig. Trap jy hom plat, brul die V6 alte lekker onder jou sitvlak. Dié geluid gaan darem ook gepaard met dienooreenkomstige krag.

Die kraglewering word deur ’n snaakse wyser aangedui. Om dit ’n toereteller te noem, is dalk ’n bietjie agtergeblewe. Die wyser dui aan wanneer jy batterykrag gebruik en of jy besig is om al jou petrol uit te ry. Weg is die syfers van die toereteller. Nou is daar net die woorde Charge (as jy rem trap) Eco (as jy mooi ry) en Power (as jy die bogenoemde brulgeluid hoor. So van mooi ry gepraat: Die instrumentpaneel verlig hom mooi in blou as jy dit regkry om die wyser in Eco te hou. Trap jy ’n bietjie harder op die versneller, verdwyn die gerusstellende blou liggie, so amper asof die motor jou wil straf. Dit word later ’n speletjie om te kyk hoe lank jy alles blou kan hou.

Die motor het heelwat ander luukshede, soos baie gemaklike sitplekke met verkoeling of verhitting. Lekker informatiewe grafika, as jy eendag daarby uitkom, is ook beskikbaar op die mediastelsel.

Kontroles en navigasie op die stelsel is ongelukkig nie so gebruikersvriendelik nie. Verder kan ’n mens nie eintlik foutvind met die Lexus nie. ’n Mens sal ook nie so hoop nie, want vir sy prys kan jy heelwat ander baie gesogte rygoed gaan koop.

Slotsom

Dit is boonop nou nog mooier as tevore. Dit is alles noodsaaklik in hierdie baie mededingende segment.

  • PRYS R877 700
  • ENJIN Twee elektriese motors en ’n 3,5 L-V6; 183 kW, 317 Nm
  • VERRIGTING 0-100 km/h in 7,8 s., topspoed 200 km/h
  • VERBRUIK 6,3 L/100 km gekombineerde siklus volgens Lexus, 8,4 L/100 km getoets deur Huisgenoot
  • MEDEDINGERS BMW X5, Audi Q7
  • ONS HOU VAN Oorhoofse projekteerder, goeie klankstelsel, beter ontwerp buite
  • DIT PLA Kajuit-uitleg is nie baie gebruikersvriendelik of mooi nie.

- Anton Vermeulen