Die top-model, die IS 350 F-Sport met sy aggressiewe voorkoms, trek veral die aandag.

Dit is regtig ’n mooi motor met ’n unieke identiteit en die model probeer glad nie sy Duitse mededingers namaak nie. Ontwerpskenmerke wat veral uitstaan, is die sportiewe sierrooster, bultende enjinkap, lae profiel en LED-dagryligte.

Die binne-ontwerp is futuristies, so dit sal nie noodwendig in almal se smaak val nie. Tog is die uitleg daarvan nie te ingewikkeld nie en is kontroles logies geplaas. Daar is ook indrukwekkende multimedia- en bestuurdersteunstelsels, en die F-Sport het ’n digitale instrumentepaneel.

Anders as sy mededingers is talle luukse en tegnologiese kenmerke standaard en is selfs satellietnavigasie by die prys ingesluit. Die multimedia-skermpie word met ’n soort kontrole-stok beheer, maar dis nogal sensitief vir beweegaksies en ’n mens sukkel dus soms om ’n presiese keuse uit te oefen.

Die voertuig bied vier bestuurstyl-modusse, Eco, Normal, Sport en Sport+, wat die dinamiese aard van die motor aanpas. Die F-Sport bestuur heel bevredigend en die motor se sportiewe karakter beïndruk. Verder is hantering en stabiliteit goed, terwyl die goed-gebalanseerde stuur en skerp remme jou as bestuurder selfvertroue gee.

Slotsom:

Die nuwe geslag IS-reeks is weer ’n bewys dat Lexus ’n mededinger is om mee rekening te hou. Dit is ’n goeie alternatief as jy nie te vinde is vir een van die Duitsers se luukse sportsedans nie – en jy sal nie teleurgesteld wees as jy die IS in jou motorhuis parkeer nie.

  • PRYS R571 500
  • ENJIN 3,5 L V6, 228 kW, 375 Nm
  • VERRIGTING 0-100 km/h in 5,9 sek, top-spoed 225km/h; 9,7 l/100 km
  • MEDEDINGERS BMW 3-reeks, Audi A4, Mercedes C-klas
  • ONS HOU VAN Die byderwetse, aggressiewe ontwerp en sportiewe karakter.
  • DIT PLA Die paneelbord se ontwerp

- Wilmer Müller