Dié model is dalk nie so sportief soos die IS- of GS-modelle nie, maar dit is statig, gerieflik en nogal ruim.

[post-slider]

Boonop is die prys glad nie sleg nie – veral as jy reken dat dit in sy prysklas met die Audi A4 en Volvo S60 meeding.

Wat veral beïndruk, is die hoeveelheid ruimte wat dit bied – ’n bagasieruim van 490 L inkluis – en ’n baie soepel ry-ervaring. Die ES250 se voorkoms is redelik konserwatief in vergelyking met ander moderne Lexus-modelle, tog behoort dit nogal byklank by talle kopers te vind.

Dit het ook ’n rits standaardkenmerke, wat al die gewone fieterjasies insluit, maar het ook kenmerke soos blindekolwaarskuwing, ’n banddrukmonitor, agtduim-raakskerm, satellietnavigasie, dubbelsone-klimaatbeheer, truratkamera, sondak, Bluetooth, satelliet-kontroles op die stuurwiel en 10 lugsakke.

Op die pad is die ES250 glad nie sleg nie, en veral die outomatiese ratkas se gladde ratwisseling is indrukwekkend. In die geheel is die ritervaring baie aangenaam met min pad- of windgeraas. Die 2,5 L-enjin kwyt hom ook redelik goed van sy taak en lewer genoeg krag wanneer jy dit nodig kry.

In geheel gesien is die ES250 ’n goeie keuse in sy segment, en is dit ’n vaandeldraer vir luuksheid en elegansie.

Prys: R462 500

Enjin: 2,5 L

Krag: 135 kW teen 6 000 r.p.m.

Wringkrag: 235 Nm teen 4 100 r.p.m.

Topspoed: 207 km/h

0-100 km/h: 9,8 sekondes

Gemiddelde brandstofverbruik: 8 L/100 km

- Wilmer Muller