Land Rover se nuwe Discovery Sport is ’n sterk mededinger vir sportnutsvoertuie soos die Jeep Cherokee, Kia Sorento en Hyundai Santa Fe. [post-slider] Die Discovery Sport vervang die Land Rover Freelander, wat nou iets van die verlede is, en ding in ’n heel nuwe nis mee. (Die Freelander was immers meer kompak en meer gemik op sportnutse soos die BMW X1, VW Tiguan en Audi Q3.) Die Discovery Sport is aansienlik groter en bied selfs sewe sitplekke. Tipies Land Rover is dit tegelykertyd ’n vernuftige viertrek en ’n baie gerieflike alledaagse ryding met talle luukse en geriefskenmerke. Dis nogal mooi en daar is duidelike ontwerpooreenkomste met die Range Rover Evoque – en op die oog af is dit moeilik om te glo dat die Discovery Sport ook ’n hardebaard-veldryding is.

'Ons toetsmodel was in die HSE Luxury-gewaad en regtig luuks.'

Ons toetsmodel was in die HSE Luxury-gewaad en regtig luuks met al die geriefskenmerke en jongste tegnotruuks denkbaar. Die gehalte van die afwerking is indrukwekkend, terwyl daar regtig baie ruimte is. Die derde ry sitplekke is egter eerder vir kinders en vou weg in die bagasieruim.

Die voertuig se ritgehalte is bogemiddeld goed en die hantering indrukwekkend. Boonop lewer die 2,2 L-turbodiesel goeie verrigting en die negegang outomatiese ratkas gladde wisselings.

Daar’s onmiddellik krag wanneer jy voet neersit– en dit gaan gepaard met verbasend min enjin- en padgeraas in die kajuit.

Die Discovery Sport is altyd in viertrekmodus en ’n rekenaar beheer die voertuig se sentrale elektroniese sluitewenaar. Dus, in gewone ry-omstandighede soos in die stad sal die meeste van die voertuig se krag na die voorwiele gestuur word. Maar sodra jy meer uitdagende terrein soos ’n grondpad aandurf, sal die krag 50-50 verdeel word. Die blikbrein sal met die ABS-remstelsel ’n tollende wiel vasknyp om krag na ’n wiel met beter vastrap te stuur.

Dié Land Rover het ook ’n ritmodusknop wat die bestuurder die keuse van vier modusse (wat opsies soos “sand” en “grondpad” insluit) bied.

Slotsom

Die Discovery Sport is ewe tuis in die stad is in die veld; ongeag waarvoor jy die voertuig wil aanwend, beloof dit om ’n gemaklike ryding te wees.

As jy bevoorreg is om ’n duurder ryding vir jou gesin te bekostig, is die Discovery Sport ’n goeie kopie, want dit is luuks, ry lekker, het baie ruimte en is kragtig genoeg om iets soos ’n woonwa of boot te sleep.

Dit is regtig ’n mooi voertuig wat nogal die aandag trek. Maar jy moet nie die Discovery op sy baadjie takseer nie; dit kan ook ’n hardebaardvoertuig wees as die omstandighede dit vereis.

  • Model: Land Rover Discovery Sport HSE Luxury
  • Enjin: 2,2 L-turbodiesel
  • Verrigting: 140 kW; 440 Nm
  • 0-100 km/h: 8,9 sekondes
  • Topspoed: 188km/h
  • Gemiddelde verbruik: 6,3 L/100 km (8,0 L/100 km deur Huisgenoot getoets)