En al is daar ’n paar wat jy liefs nie eens na moet kyk nie (hoofsaaklik van die Chinese vervaardigers), is daar regtig ’n paar indrukwekkende modelle, soos die Kia Picanto. [post-slider] Toe dié motortjie se tweede generasie in 2011 bekendgestel is, het Kia die motorwêreld laat regop sit, want hier was skielik ’n aantreklike intreevlakmotor met goeie bougehalte, al die jongste foefies en ’n redelike ruim kajuit, en dis boonop ’n goeie ryding.

'Tog is die stileringsveranderings glad nie opmerklik nie.'

Dis vier jaar later en Kia het die Picanto nou ’n bietjie botoksbehandeling gegee om seker te maak hierdie gewilde knapie verloor nie sy sprankel nie. Tog is die stileringsveranderings glad nie opmerklik nie en sal die meeste mense dit nie agterkom nie – en dit was nou wragtig ook nie asof die Picanto begin lyk het of dit oor die muur is nie.

Van die ontwerpsaanpassings sluit in ’n hergestileerde voorbuffer, tierneusrooster, ’n enkele groot lugdam onder die rooster en misligte wat ook as dagryligte funksioneer.

Agterlangs is die buffer ook aangepas, en binne is die deel rondom die klankstelsel opgekikker en die radio het ’n RDS-funksie.

Ons toetsmotor was die luukse EX-weergawe. Dit het ’n indrukwekkende toerustinglys en kenmerke soos lugversorging, ’n klankstelsel met Bluetooth en MP3-konnektiwiteit, stuurwielkontroles, twee lugsakke voor, ABS met noodremflikkerwaarskuwing (ESS) en Isofix-babasitplek-ankers.

Ondanks die Picanto se kompakte afmetings, verras die hoeveelheid ruimte wat daar vir die bestuurder en passasiers is. Omdat die bagasieruim knap is, is die Picanto waarskynlik eerder geskik vir enkellopendes en enkelouers of as ’n gesin se tweede ryding.

Kia het ook nie aan die Picanto se kragbron gepeuter nie: die 1,2 L-enjin met 65 kW se krag het onveranderd gebly. Die enjin is redelik gewillig en voel eintlik baie rats. Die ratwisselings is glad, die Picanto’tjie versnel maklik en op die oop pad kom hy nooit lui voor nie.

Boonop parkeer dit baie maklik, en uiteraard is dit dus die ideale stadsryding dié. Ondanks sy grootte, boesem dié motor baie vertroue by die bestuurder in.

Slotsom

Kia is al lank ’n vervaardiger om mee rekening te hou en die meeste van hul modelle beïndruk met hul ontwerp, bestuursgenot en ’n goeie eienaarservaring.

Die Picanto, wat al talle motorpryse gewen het, is elke sent werd en een van die beste motors in sy klas, waar dit onder meer met die nuwe VW Up en Hyundai Grand i10 meeding.

Ons het nog altyd van die Picanto gehou – veral omdat dit talle sterk eienskappe het en ’n motor met karakter is. Boonop kom dit met Kia se vyfjaar-/150?000?km-waarborg.

  • Model: Kia Picanto 1,2 EX handrat
  • Prys: R149 995
  • Enjin: 1,2 L Petrol
  • Kraglewering: 65 kW @ 6 000 r/min
  • Wringkrag: 120 kW @ 4 000 r/min
  • Gemiddelde brandstofverbruik: 6,7 L/100 km (soos deur Huisgenoot getoets)