Dit is immers ’n splinternuwe modelreeks van die ikoniese Amerikaanse vervaardiger en ook meer gemik op die “sagte” sportnutsvoertuigsegment eerder as hardebaard 4x4’s.[post-slider]Net vir konteks is dit belangrik om te weet daar vloei Italiaanse bloed deur die Renegade aangesien Jeep se moedermaatskappy, Fiat, ’n groot aandeel in die ontwikkeling daarvan gehad het. Maar dit is nie noodwendig sleg nie; die Renegade lyk darem soos ’n Jeep. Dit het ook moderne, Europese ingenieursvernuf en ’n indrukwekkende turbo-enjin, met komplimente van Fiat. Die voertuig ding met kompakte sportnutsvoertuie soos die Nissan Qashqai, VW Tiguan en Honda CR-V mee, maar dit lyk meer macho danksy kenmerkende Jeep-eienskappe soos die ronde voorligte, ikoniese sierrooster met sy sewe gleuwe en regop voorruit.

'Binne verras die Renegade jou met sy ruimte wat toegeskryf kan word aan die groter dakhoogte.'

Binne verras die Renegade jou met sy ruimte wat toegeskryf kan word aan die groter dakhoogte. Die bagasieruim beslaan ’n skaflike 351?liter en kan vergroot word tot 1?297?liter wanneer die agtersitplekke platgeslaan word. (Ja, daar is selfs ’n volgrootte-noodwiel.)

Die voertuig het al die gewone geriefskenmerke en het Jeep se UConnect-multimediastelsel wat ’n vyfduim-raakskerm en verskeie selfoonfunksies bied. Bougehalte is goed en dit voel luuks, sonder om verfyn te voel.

Onder die Renegade se enjinkap is ’n 1,4-MultiAir-turbo-petrolenjin met 103?kW en 230?Nm-wringkrag en ’n sesspoed-handratkas. En ’n mens kan nie help om beïndruk te wees nie. Eerstens is die ratkas seepglad en ongelooflik goed uiteengesit. Tweedens help dit dat die wringkrag van hierdie 1,4 liter so hoog is. Boonop is 230 Nm oorgenoeg vir hierdie middelslag-veeldoeler.

Ons was ook aangenaam verras oor hoe suinig die voertuig op die oop pad is. Teen 120 km/h is tussen 4-5 liter per 100 km verbruik gehaal. Die stadsverkeersyfer was ’n bietjie swaarder as geadverteer, maar steeds skaflik.

Daar is as bonus nog hope elektroniese foefies en hulpmiddels ingesluit in hierdie baba-Jeep. As die voertuig bespeur jy kan die motor voor jou tref en jy gee nie genoeg aandag nie, gaan daar ’n alarm af wat jou waarsku om ankers te gooi. Daar is selfs banddrukmonitors en ’n toepassing wat jou battery se lading aandui.

Slotsom:

’n Mens kan nog baie kwytraak oor die Renegade se goeie ontwerp en al die klein detail wat die ontwerpers bygevoeg het. Daar is eenvoudig net nie genoeg plek nie.

Ons glo hierdie buksie het genoeg Jeep in hom om nog groot spore te los in vele kopers se harte.

  • PRYS R375 990
  • ENJIN 1,4 petrol; 103 kW, 230 Nm
  • RATKAS sesgang-handrat
  • VERRIGTING 0-100 km/h 10,9 sek. Topspoed: 181 km/h
  • VERBRUIK 6,0 l/100 km gekombineerde siklus volgens Jeep, 7,8 l/100 km getoets deur Huisgenoot
  • MEDEDINGERS Nissan Qashqai, Honda CRV
  • ONS HOU VAN Stylvolle ontwerp
  • DIT PLA Prys

- Anton Lourens & Wilmer Müller