[post-slider]

Soos ander motors het dit ook nou ’n kleiner enjin – die intreevlakmodel het ’n 2 L-turbopetrolenjin – maar het dit steeds so luuks en afgerond gebly?

Hierdie kragbron is bedoel om doeltreffender te wees en minder uitlaatgasse vry te stel. Met 177 kW en 340 Nm wringkrag sal sy gretigheid jou verbaas; dit versnel binne 7,9 sekondes van 0-100 km/h. Maar die belangrikste syfer is 8,9 km/100 km – sy beweerde brandstofverbruik.

Die XF se agtspoed outomatiese ratkas werk stil op die agtergrond; die wisselings is foutloos.

Wat die meeste van die XF beïndruk, is die rit. Die Jaguar ry op ’n stel uiters gemaklike stel skokbrekers. Dit is sag oor bulte in die pad, maar rol ook nie wanneer jy in draaie is nie. Verder is die beheer uitstekend vir so ’n groot motor.

Al is die XF al sedert 2007 beskikbaar en het dit in 2010 ’n voorkomsvernuwing gekry, raak dit nog nie lank in die tand nie.

Die XF is steeds ’n luukse maar sportiewe voertuig, en is steeds ’n uitstekende keuse as jy nie ’n Duitse motor wil hê nie. Dit is ’n klassieke skoonheid en laat steeds die koppe draai.

  • Model: Jaguar XF Premium Luxury
  • Prys: R665 900
  • Enjin: 2 L-viersilinder-turbopetrolenjin
  • Krag: 177 kW
  • Wringkrag: 340 Nm
  • 0-100 km/h: 7,9 s (volgens Jaguar)
  • Brandstofverbruik: 8,9 L/100 km (volgens Jaguar)