Infiniti het Huisgenoot onlangs sy nuwe weeldesedan die Q50 geleen om ’n paar dae lank mee rond te rits.

[post-slider]

Hier is agt feite wat jy oor dié luukse ryding moet weet:

  1. Die Q50 sê topklas-sedans soos die BMW 3-reeks, Mercedes-Benz C-klas, Audi A4 en Lexus IS die stryd aan – nie ’n maklike mark om sommer oornag te verower nie.
  2. Die Q50 het ’n sportiewe ontwerp, is ’n toonbeeld van luuksheid en het ’n rits duur tegnologiese hulpmiddels as standaardkenmerke – dit probeer meer waarde vir geld as sy mededingers bied.
  3. Die model wat ons onder hande gehad het, was die Sport Hybrid, wat beteken die motor word deur ’n V6-petrolenjin en batterykrag aangedryf. Dit is veronderstel om ook meer brandstofdoeltreffend te wees.
  4. Dié weergawe is ook vierwielaangedrewe en het meer as genoeg woema. Dit voel rats en hanteer ook lekker lig danksy Infiniti se slim DAS-stuurstelsel, ’n volkome elektriese stuuraksie. Boonop is hierdie model met sportvere en -remme toegerus. Die Q50 bevat ook ’n noodremstelsel, wat die motor vanself laat stilhou as daar ’n motor of voetganger skielik voor jou inbeweeg. Dit werk teen snelhede van 40 km/h en stadiger.
  5. Die hibried-model kan aan sy eiesoortige sierrooster en LED-liggies uitgeken word.
  6. Die luukse binneruim het topgehalte-materiaal en die gehalte van afwerking hou kers vas by sy mededingers. Daar is ook twee raakskerms – die boonste skerm huisves die navigasiestelsel, terwyl die skerm onder jou radio, lugversorging en foon-toepassings hanteer.
  7. Jy kan die Q50 ook verpersoonlik sodat die motor se talle geriefs- en veiligheidskenmerke by jou bestuurstyl pas.
  8. Die Q50 is ’n raps groter as sy mededingers; daar is dus baie beenruimte voor en agter. Drie volwassenes sal maklik agter kan sit.
Slotsom Die Q50 het die regte gene om in sy mededingende segment mee te ding – die bougehalte is indrukwekkend, die voorkoms is treffend, die rit is goed en dit voel of jy ’n duur motor ry.
'Maar Suid-Afrikaners is tog te lief vir luukse Duitse rygoed.'

Maar Suid-Afrikaners is tog te lief vir luukse Duitse rygoed, wat dit maar moeilik maak vir enige mededinger om hul aandag te trek.

’n Mens moet onthou Infiniti is Nissan se weergawe van Toyota se Lexus – albei hierdie vervaardigers is immers gevestig met goeie reputasies.

  • Toetsmodel: Infiniti Q50 Sports Hybrid AWD
  • Prys: R584 000
  • Enjin: 3,5-liter V6
  • Krag (petrol-enjin): 219 kW teen 6 800 r.p.m.
  • Krag: (elektriese enjin): 50 kW
  • Krag (gekombineerd): 261 kW
  • Wringkrag (petrol-enjin): 338 Nm teen 5 000 r.p.m.
  • Wringkrag: (elektriese enjin): 270 Nm
  • Wringkrag (gekombineerd): 536 kW
  • Topspoed: 250 km/h
  • 0-100 km/h: 5,4 sekondes
  • Gemiddelde brandstofverbruik: 7,2 L/100 km