[post-slider]

In 2014 het Hyundai die iX35 bietjie opgeknap en dit ’n varser voorkoms gegee, terwyl daar ook in die doodsnikke van 2014 ’n meer bekostigbare dieselmodel bekendgestel is wat sowat R70 000 goedkoper as die ander dieselweergawe is. Ons het juis dié model op die proef gestel en kon nie help om daarvan te hou nie.

Onder sy enjinkap is ’n 1,7-L-turbodieselkragbron wat 85 kW se krag en 260 Nm se wringkrag uitskop, wat die iX35 in staat stel om ’n topspoed van 173 km/h kaf te draf. Boonop is die geskatte gemiddele brandstofverbruik 6,5 L/100 km, wat glad nie sleg is nie.

Dié enjin is meer as gewillig en kwyt hom eintlik goed van sy taak, want dit voel nie juis lui nie. Dit is gekoppel aan ’n sesspoed-handratkas wat gladde ratwisseling bied. In der waarheid voel mens amper teleurgesteld dat Hyundai nou eers dié enjin aan die einde van die iX35 se leeftyd beskikbaarstel, want dit pas die voertuig soos ’n handskoen, en behoort die voorkeur-enjin te wees as jy ’n iX35 koop. As ’n alledaagse of langpadryding beïndruk hierdie iX35-model en ry dit eenvoudig net lekker. En moenie dink net omdat daar ’n plaasvervanger op die horison is dat die iX35 nou lang in die tand begin raak nie.

'Sy onlangse gesigsontrimpeling laat die voertuig redelik modern lyk.'

Sy onlangse gesigsontrimpeling laat die voertuig redelik modern lyk en boonop het dit talle luukse standaardkenmerke, soos sitplekke wat gedeeltelike leerbekleedsel het, lugversorging, spoedbeheer, elektriese vensters en ’n klankstelsel met Bluetooth-funksionaliteit.

Daar is ook ’n trurat-kamera met parkeersensors, ’n rits lugsakke en ABS-remme.

Slotsom

Hyundai het ’n rukkie gelede die eerste inligting en foto’s uitgereik van die iX35 se plaasvervanger, wat dalk al einde vanjaar hier kan wees.

Maar as jy iemand is wat nie te veel bekommerd is of jy die jongste ryding het nie, is die huidige iX35 steeds ’n uitstekende kopie. Dit vergelyk in alle opsigte baie goed moet sy mededingers, soos die Nissan Qashqai en VW Tiguan.

Jy hoef ook net te kyk na die hoeveelheid iX35’e wat jy op die pad sien om te weet dat dit die goedkeuring van duisende Suid-Afrikaners wegdra.

  • Prys: R359 900
  • Enjin: 1,7-L-turbodiesel
  • Krag: 85 kW @ 4 000 r.p.m.
  • Wringkrag: 260 Nm @ 1 250-2 750 r.p.m.
  • 0-100 km/h: 12,4 sek.
  • Topspoed: 173 km/h
  • Brandstofverbruik: 6,5 L/100 km (gemiddeld)