Die nuwe Hyundai i20 moet met reg ’n gunsteling vir die volgende motor van die jaar-stryd wees. Dis eenvoudig ’n wenpakket en bied waarde vir geld, terwyl jy goeie gehalte en boonop ’n mooi motor kry.

[post-slider]

Die nuwe i20 lyk meer na ’n opgegradeerde i30 as ’n i20. ’n Mens kry dieselfde gevoel sodra jy inklim. Dis asof Hyundai ’n motor gebou het wat in ’n hoër klas moet meeding – en die model wat ons onder hande gehad het, is maar die intreevlakweergawe. Bougehalte en materiale is beter as tevore. ’n Mens word sommer vroeg al hieraan blootgestel met die oop- en toemaak van jou deur. ’n Baie bevredigende ‘doef’ tref jou ore, glad niks blikkerig aan hierdie motor nie. Die afwerking op die instrumentpaneel is nog harde plastiek maar op die oog af het dit ’n baie luukser gevoel. Ons hou veral ook van die nuwe ontwerp van die middelkonsole. Weg is die plastiekerige silwer seshoek. Die nuwe ontwerp is baie stylvoller, en kontroles het ook ’n lekker gevoel, terwyl alles logies uitgelê is.

'Draai mens die sleutel word jy verder verras.'

Draai mens die sleutel word jy verder verras. Die klankdemping op die i20 is uitstekend, wat bydrae tot die i20 se weelderiger gevoel.

Hyundai het hulle ook goed van hul taak gekwyt om die ratkas te verbeter, wat ook voel asof dit in ’n duurder model tuishoort.

Boonop is die intreevlak-i20 se 1,2 L-petrolenjin redelik gewillig en voel dit nooit lui nie. Die gemiddelde brandstofverbruik wat ons gekry het, was sowat 6 L/100 km – en dit meestal in verkeer.

Slotsom

Die i20 het ons tereg baie beïndruk, want dis duidelik Hyundai het ’n wenresep beet. As jy nog nie een van die duisende Suid-Afrikaners is wat al ’n Hyundai besit nie, is dit dalk hoog tyd om een te oorweeg.

Dié Koreaanse vervaardiger gaan van krag tot krag en het al bewys dis ’n vervaardiger wat jy kan vertrou en wat goeie produkte lewer. Die nuwe i20 is net weer ’n bewys hiervan.

As jy ’n Polo, Fiesta, Clio of Yaris oorweeg het, raai ons jou sterk aan om die i20 ook te beproef.

  • PRYS R184 900
  • ENJIN 1,25 L-viersilinderpetrol; 61 kW, 115 Nm
  • VERRIGTING 0-100 km/h 13,6 sek. Topspoed 165 km/h
  • VERBRUIK 5,9 L/100km (gekombineerde siklus, volgens Hyundai), 6,1 L/100km getoets deur Huisgenoot
  • ONS HOU VAN Alles.
  • DIT PLA Niks

- Wilmer Muller & Anton Vermeulen