Wat is die goue reël? Moenie torring aan iets wat niks makeer nie.

'Hyundai het wel dit reggekry om hierdie gesogte model varser te laat vertoon.'

Hoe is dit dus moontlik dat Hyundai die mooie Elantra nog mooier kon laat lyk? Ek weet self nie; hulle het wel dit reggekry om hierdie gesogte model varser te laat vertoon.

’n Bietjie skaafwerk aan die kopligte, (ongelooflik mooi) allooiwiele en sierrooster, en verskeie nuwe verfopsies is die grootste veranderings buitelangs. Maar die grootste verandering is onder die enjinkap.

Dié motor word nou nie meer deur ’n 1,8 L-enjin aangedryf nie, maar deur ’n 1,6 L-kragbron. Hyundai beweer dit is om brandstofverbruik te verminder.

Die verskil, as jy dadelik wonder soos ek, is nie noemenswaardig beter as hulle vorige model nie, ten minste nie op papier nie.

Volgens Hyundai is die 1,8 L-enjin se verbruik 6,5 L per 100 km vir ’n gekombineerde siklus.

Die 1,6 lewer weer verbruik van 6,4 L per 100 km, nie veel van ’n verskil nie. Dit sonder om baie krag in te boet, en teen ’n baie beter prys. ’n Wen-wen-situasie!

Nog ’n lekker ekstra is die parkeringsensors wat nou as standaard-toerusting bygevoeg word. Dit is baie gerieflik vir wanneer jy beknopte parkering moet baasraak.

[post-slider]

Slotsom

Ek dink in geheel het Hyundai vir hulle baie hoofpyne besorg: Dit is nou maar eenmaal nie maklik om te verbeter op so ’n uitstekende motor nie, veral nie as jy die prys mededingend probeer hou nie.

Die Hyundai het die titel as motor van die jaar baie goed gedra. Al die nuwe “verbeteringe” sal dalk nie ’n bestaande Elantra-eienaar oorreed om weer een te koop nie, maar dit gee wel die kieskeurige koper ’n rede om 2012 se motor van die jaar in 2014 aan te skaf.

  • MODEL Hyundai Elantra GLS 1.6 Premium
  • PRYS R252 900
  • ENJIN 1,6 L-petrol; 96 kW, 157 Nm
  • VERRIGTING 0-100 km/h 10,1 s. Topspoed 200 km/h
  • VERBRUIK 6,4 L/100 km gekombineerde siklus volgens Hyundai, 6,5 L/100 km getoets deur Huisgenoot
  • ONS HOU VAN Goeie pakket vir die prys
  • DIT PLA Geen

Mededingers:

  • Kia Cerato EX Handrat, R248 995
  • Toyota Corolla 1,6 Sprinter, R256 400