Die vraag na stasiewaens in die Suid-Afrikaanse motormark is maar gering, want sportnutsvoertuie en veeldoelige mensekarweiers kraai koning by diegene wat ’n ruim gesinsryding soek.

[post-slider]

As jy dus een van die min motorkopers in Suid-Afrika is wat ’n stasiewa begeer, is jou keuse beperk en boonop moet jy by die duurder handelsmerke soos Mercedes, Volvo en Audi se handelaars ’n draai maak. Maar, Honda het verlede jaar besluit om die kans te waag en die stasiewaweergawe van sy Civic hier bekend te stel. Dis duidelik dat die Civic Tourer nie sommer enige ou vaal stasiewa is nie, want hy het ’n gewaagde, futuristiese voorkoms. Hoewel die ontwerp nie in almal se smaak sal val nie, het ons nogal daarvan gehou juis omdat dit so anders is en nogal sportief lyk.

'Binnelangs is die Civic Tourer ook taamlik indrukwekkend.'

Binnelangs is die Civic Tourer ook taamlik indrukwekkend met goeie bougehalte terwyl dit ook ’n omvattende spesifikasievlak het, wat ’n trurat-kamera, leerbekleedsel, klimaatbeheer, verhitte sitplekke en ’n ritrekenaar insluit.

Die Civic Tourer is sowat 25?cm langer as die Civic-luikrug wat beteken die laairuim kan 573 L sluk.

Boonop is daar ’n magdom opvoukombinasies vir die sitplekke en ’n nuttige verstelbare houerstelsel wat alles bydra tot die motor se veeldoeligheid – wanneer dit sitplekke plat is, is daar meer as ’n 1 000 L se ruimte.

Die Civic Tourer se hantering beïndruk ook en dit is regtig ’n gerieflike ryding.

Onder sy enjinkap is Honda se 1,8 L i-VTEC- enjin wat 104?kW en 174?Nm lewer. Hoewel dié enjin hom redelik goed van sy taak kwyt, voel dit soms aan die lui kant en komplementeer dit nie noodwendig die Civic Tourer se sportiewe voorkoms nie.

Die vering het drie verstellings, naamlik gerief, normaal en dinamies, om die rit fermer of gemakliker te maak na gelang van die bestuurstyl. Daar is ook ’n eko-modus wat sal help om brandstofverbruik onder beheer te hou.

Slotsom

Die Civic Tourer sal nie noodwendig ’n topverkoper in Suid-Afrika word nie, maar dit is ’n goeie alternatief vir enigiemand wat byderwets wil wees. En tipies Honda is dit ’n stewige voertuig wat gebou is om te hou. Maar dit bly ’n nismotor en is nogal duur. Baie mense sal dalk liewer ’n sportnutsvoertuig oorweeg.

  • Model: Honda Civic Touer 1,8 Executive, out.
  • Prys: R392 700
  • Enjin: 1,8 L petrol
  • Kraglewering: 104 @ 6 500 r.p.m.
  • Wringkrag: 174 @ 4 300 r.p.m.
  • Brandstofverbruik: 6,7 L/100 km
  • 0-100 km/h: 11,3 sek.
  • Topspoed: 205 km/h