[post-slider]

Die jongste Ballade, wat vroeër vanjaar plaaslik bekendgestel is, is weereens ’n bewys dat Honda gehaltevoertuie kan bou wat boonop rygenot en gerief bied.

En waar die Ballade veral beïndruk, is sy talle standaard-geriefskenmerke.

Die Elegance-model, wat ons toetsbestuur het, het nie net al die gewone kenmerke soos lugverkoeling, kragstuur en elektriese vensters nie; dit het ook ’n indrukwekkende multimedia-stelsel, wat deur middel van slim sagteware met jou slimfoon (Apple of Android) kan kommunikeer. Dit beteken as jy byvoorbeeld ’n navigasie-app soos Google Maps op jou slimfoon het, kan jy dit gebruik pleks van ’n aparte satelliet-navigasiestelsel.

Uiteraard is Bluetooth standaard en daar is boonop twee USB-punte. Ander kenmerke sluit in ’n truratkamera en spoedbeheer, terwyl die veiligheidspakket uit ses lugsakke en ABS-remme bestaan.

Die Ballade verdien ook punte vir sy ruim en gerieflike kajuit, asook die tamaai bagasieruim van 536 L. Binnelangs is die afwerking redelik goed en voel dit asof dit gebou is om jare te hou.

Onder die Ballade se enjinkap is dieselfde 1,5 L-petrolenjin as die vorige model, maar Honda sê hulle het darem ’n bietjie daaraan gepeuter om brandstofverbruik te verbeter – die gemiddelde brandstofverbruik is 5,9 L/100 km (hoewel ons verbruiksyfer sowat 7 L/100 km was).

Dié kragbron is nou nie noodwendig super-modern nie, maar hy kwyt hom goed van sy taak, en die rit is ook gemaklik. Dit bestuur ook maklik danksy goeie sigbaarheid en die Ballade se kompakte afmetings.

Soos die Ballade van ouds sal die jongste weergawe jou nie teleurstel nie. Dit is soos ander Honda-modelle ’n voertuig wat goed gebou is en nie sommer probleme sal gee nie. Mededinging in die Ballade se segment is nogal straf, met talle goeie kandidate soos die Volkswagen Polo en Hyundai Accent, maar jy sal waarskynlik nie spyt wees as jy die Ballade kies nie.

Die Honda Ballade 1,5 Elegance kos R220 990, maar daar is ’n Trend-model (met ’n laer afwerkingsvlak) teen R195 900 beskikbaar. Albei modelle is beskikbaar met ’n handratkas of palwisselende outomatiese ratkas. Ingesluit in die prys is ’n waarborg van drie jaar of 100 000 km, ’n diensplan van vier jaar of 60 000 km en ’n jaar gratis padbystand.

Model: Honda Ballade 1,5 Elegance

Prys: R220 990

Enjin: 1,5 L-petrolenjin

Krag: 88 kW

Wringkrag: 145 Nm

0-100km/h: 9,6 sekondes

Brandstofverbruik: 5,9 L/100 km (gemiddeld)