Model: GWM C20R

Die C20R se direkte kompetisie is die VW Polo Vivo Maxx en die Renault Sandero Stepway, maar die C20R is in geheel ’n beter pakket en is meer modern.

Hoewel die C20R gegrond is op die GWM se C10-luikrug, lyk dit meer sportief danksy unieke ontwerpskenmerke, soos ’n nuwe sierrooster en geïntegreerde misligte voor, silwerkleurige dakrelings en ’n drukvin agter. Dit het ook 16-duim-allooiwiele en rooi geverfde remknypers.

Binnelangs deel die C20R sy moderne paneelbord met die C10. Die ontwerp daarvan is goed, en alle kontroles is binne maklike bereik van die bestuurder. Alles voel ook goed aanmekaargesit en stewig.

Die C20R bied omvattende standaardkenmerke en sluit in hoogteverstelbare hoofligte, parkeersensors agter, lugverkoeling, ’n radio/CD/MP3-klankstelsel met ’n USB-sok, kontroles op die stuurwiel en kragstuur. Dit het dubbele lugsakke voor en ABS-remme.

Verder is die stuurwiel en bestuurdersitplek se hoogte verstelbaar en daar is meer as genoeg ruimte vir vier volwassenes of ’n klein gesin. Die bagasieruim het ’n versteekte ruimte en die agterste sitplek kan vorentoe skuif om die ruimte te vergroot.

Ons het ook gehou van hoe die C20R stuur en hanteer; dié motortjie voel ewe tuis in die stad en op die oop pad. GWM kan wel oorweeg om materiaalbekleedsel pleks van die huidige sintetiese afwerking te gebruik, maar in geheel is die C20R ’n slim kopie en een van die aantreklikste luikrugmotors onder R160 000. Soos GWM se ander produkte, wat die Steed-bakkiereeks en H5-sportnutsvoertuig insluit, is die C20R gerat om motorkopers se wanpersepsies oor Chinese motors te verander. Gaan toetsbestuur gerus enige van GWM se modelle.

  • Prys: R154 900
  • Enjin: 1,5 L, petrol
  • Verrigting: 77 kW teen 6 000 r/min; 138 Nm teen 4 200 r/min
  • Brandstofverbruik: 7,7 L/100 km
  • Waarborg: Drie jaar/100 000 km
  • Diensplan: Drie jaar/45 000 km

Wilmer Müller

GWM C20R GWM C20R