Sterk ontwerpslyne en groot 18-duim-wiele maak hierdie dubbelkajuit darem maar baie begeerlik. Boonop het dit ook ’n outomatiese ratkas. [post-slider] Dis nie net rof en onbeskof nie; dis veilig ook. Die 4X4 het ABS-remme, vastrap-beheer, heuwelwegtrek-help, afdraandbeheer en lugsakke wat jou veiligheid sal verseker. Brandstofverbruik is nie sleg nie: Teen 10,5 L per 100 km het ek ’n bietjie erger verwag van die Wildtrak. Spottenderwys het ek aan my vrou gewys dat die dieseltenk aan die linkerkant sit en die testosteroon-tenk aan die regterkant. Die testosteroon-tenk vat natuurlik baie meer as die 80 L-dieseltenk..

'Nog luukshede is die verhitte sitplekke, tweesone-klimaatbeheer en trurat-kamera.'

Nog luukshede is die verhitte sitplekke, tweesone-klimaatbeheer en trurat-kamera.

Daar is ook oral liggies wat die kajuit sag verlig wanneer jy in of uitklim. Die sagte blou lig laat ’n mens sommer welkom voel en reg om jou avontuur te begin.

Veral klein parkeerplekke word nogal ’n avontuur. Dis natuurlik omtrent die enigste negatiewe aspek van hierdie monster. Jy kom redelik maklik in, maar die uitkom, selfs met die hulp van die kamera, is nie ’n maklike taak nie.

Dit klink dalk nie na iets wat jou sal afsit wanneer jy moet geld uithaal nie, maar moenie vir jou wederhelf kwaad wees as jou macho-wa met ’n paar skrape en duike huis toe kom nie. En onthou, jou eksklusiewe Wildtrak-oranje verf kos baie om reg te maak.

Die enigste ander negatiewe punt is die ritrekenaar se kontroles. Dis twee klein stokkies op die instrumentpaneel, soos in die ou dae. Dis vrek ongemaklik, want daar is nie baie ruimte vir jou hand om by te kom nie. Verder kan ’n mens nie aan die knoppie druk terwyl jy bestuur nie. Wel, ten minste nie op ’n veilige manier nie.

Slotsom

Na ons mening is dit die beste en mooiste 4X4-dubbelkajuitbakkie wat geld kan koop. Die twee negatiewe puntjies is nie genoeg om aan die geheel afbreek te doen nie. Die kragtige enjin, lekker outomatiese ratkas en goeie prys maak hierdie Ford na mening die beste in sy klas.

MODEL Ford Ranger 3.2 TDCi Wildtrak 4x4 6AT-dubbelkajuit

PRYS R469 900

ENJIN 3,2 L-turbodiesel; 147 kW, 470 Nm

VERBRUIK 9,3 L/100 km gekombineerde siklus volgens Ford, 10,5 L/100 km getoets deur Huisgenoot

MEDEDINGERS Volkswagen Amarok-dubbelkajuit, Isuzu KB 300 D-TEQ

ONS HOU VAN Ontwerp binne en buite, lekker ratkas.

DIT PLA Nie gemaak vir alledaagse bestuur nie. Parkering is veral ’n nagmerrie.