Dis baie moeilik om nie van die Ford Fiesta te hou nie. Hy het immers ’n oulike ontwerp, ’n netjiese binneruim met moderne tegnologie, goeie bougehalte en ’n bekroonde turbopetrolenjin.

En dit alles word gekomplimenteer met ’n indrukwekkende sesspoed outomatiese ratkas met ’n dubbele koppelaar – die een koppelaar is verantwoordelik vir die ongelyke ratte (1, 3 en 5) terwyl die ander een die gelyke nommers (2,4 en 6) hanteer. ’n Rekenaar hanteer die ratoorskakeling, wat seepglad is.

Dié Fiesta is regtig een van die beste klein outomatiese motors wat jy kan koop, terwyl die 1 L-driesilinder-enjin wakker is – dit ontwikkel 74 kW en 170 Nm wringkrag. Boonop is die gemiddelde brandstofverbruik volgens Ford ’n welkome 4,9 L per 100 km.

Die grootste kritiek teen hierdie Fiesta is sy prys, wat effe aan die duur kant is vir hierdie soort motor. Maar dis onder meer die resultaat van ’n swak Rand.

Tog kry jy regtig ’n goeie motor vir jou geld, wat goeie rygenot en ’n rits geriefskenmerke bied, onder meer Ford se innoverende SYNC-kommunikasie-en-klankstelsel. Gaan toetsbestuur dié een gerus.

  • Model: Ford Fiesta 1,0 EcoBoost PowerShift
  • Prys: R236 600
  • Verrigting: 74 kW @ 6 000 r/min, 170 Nm @ 1 400 - 4 500 r/min
  • Brandstofverbruik: 4,9 L/100 km
  • Topspoed: 180 km/h
  • 0-100 km/h: 10,8 s
  • Waarborg: 4 jaar/120 000 km
  • Diensplan: 4 jaar/60 000 km

Ford Fiesta 1.0-litre EcoBoost now available with Ford Powershif Ford_rear