Model: Ford EcoSport 1,5 Ambiente

Met die verskeidenheid sportnutsvoertuie wat ’n stewige voetspoor op die verbruikersmark laat, voel dit soms soos Goue Lokkies en die Drie Bere: Te groot, te klein en dan . . . net reg.

Dis presies waar die Ford EcoSport inpas. Behalwe vir stewige prestasie in die algemene voorkoms met ’n aggressiewer voorkant tot die goed-afgewerkte agterstewe, is ook die binneruim ’n aangename verrassing. Die EcoSport het meer ruimte as verwag. Dis alles bewerkstellig deur ’n span ontwerpers wat beslis goeie tyd aan beplanning gewy het, en slim te werk gegaan het.

Deur hier en daar ’n bietjie te sny en kleiner te maak sonder om gerief of gehalte in te boet, is die binneruim van die EcoSport effektief verhoog. Dit sluit die instrumentepaneel, stuurwiel (wat wel die sportiewe gevoel onderskryf) en die sitplekke in. Die sitvlak-gedeelte is effe korter en nouer, maar die gevolg is die moeite werd: ruimte, ruimte, ruimte. Daar word ook voorsiening gemaak vir lang en kort bestuurders met verstelbare hoogte vir die bestuurdersitplek. Die “uitgeholde” bagasiedeur is uitstekend geposisioneer. Dis laag genoeg sodat enigiemand selfs swaar voorwerpe gemaklik kan laai. Die bykomende “holte” dra daartoe by dat die reeds ruim bagasiebak nog ’n bietjie ekstra kan vat. Ook indrukwekkend is die moeite wat tydens die kajuit-ontwerp ingespan is om die bestuurder in staat te tel om sover moontlik blinde kolle uit te sny. Dit word bewerkstellig deur klein glaspanele aan die sykante (agter en voor). Die enjin is gewillig, brandstofverbruik bemoedigend en ’n plesier om te ry, ongeag verkeer- of weersomstandighede.

  • Prys: R199 000
  • Versnelling: 0-100 km/h (sekondes) 11,6 sek, topspoed 174 km/h
  • Enjin: 1,4 L, 4 silinders, 82 kW , 138 Nm, 8,6 L/100km (stadsverkeer)
  • Mededingers: Renault Duster, Daihatsu Terios
  • Positief: Beslis die bakste karnallie wat die intree-vlakkategorie vir sportnutsvoertuie betref
  • Negatief: Daar’s nog nie een in die motorhuis nie

- Annelene Oberholzer

FordEco_2

FordEco_3