[post-slider]Vir interessantheid deel die 500X sy gene met dié van die Jeep Renegade (Fiat en Chrysler is mos deesdae dieselfde maatskappy). Hoewel die 500X en die Renegade onder meer ’n enjin en tegnologie deel, lyk hulle darem heel verskillend met die 500X wat trek op sy kleinboet, die 500. Nes die meeste sportnutsvoertuie, is die 500X tuiser in die betonoerwoud as in die veld. Ons het die 500X 1,4 Cross met ’n dubbelkoppelaar outomatiese ratkas toetsbestuur. Die 500X vertoon nogal kompak, maar binnelangs is dit taamlik ruim met genoeg kop- en beenruimte, terwyl die kattebak 300 L kan sluk.

'Bougehalte is besonder goed en die voertuig voel stewig.'

Bougehalte is besonder goed en die voertuig voel stewig. Dit het ook al die nodige geriefskenmerke, en sluit onder meer Fiat se Uconnect-raakskerm in waarop rit- en vermaakinligting vertoon word. Kenmerke van dié multimediastelsel sluit onder meer Bluetooth en ’n stemopdragfunksie in.

Die 1,4 L-turbo-enjin ontwikkel 103 kW se krag, wat meer as genoeg is vir die 500X, want dit voel glad nie asof hierdie Fiatjie lui is nie. Met ’n grondvryhoogte van 16 cm sit ’n mens ook lekker hoog.

Dit voel na ’n ideale stadmotor aangesien dit gerieflik deur verkeersituasies draf en ook maklik parkeer. Maar, die 500X gee glad nie om om sy bande vuil te maak nie en hanteer goed op ’n grondpad.

Slotsom

Daar is soveel om van te kies en te keur wanneer ’n mens ’n sportnutsvoertuig soek. Die 500X, nes die Mini Countryman, is egter meer byderwetse rygoed as hul ander mededingers, soos die Nissan Qashqai en Hyundai iX35.

Die 500X het ’n geslaagde voorkoms wat darem nie generies lyk nie, terwyl dit ook heel waffers ry. Boonop het dit ’n goeie enjin wat regtig goeie brandstofverbruik lewer – ons het sowat 6,4 L/100 km gekry, wat nie te versmaai is nie.

Dis vir ons moeilik om nie van die 500X te hou nie en al klagte is eintlik dat dit nie noodwendig soveel ruimte as ’n sportnuts soos ’n Qashqai bied nie.

Model: Fiat 500X 1.4 TJET Cross DDCT

Prys: R359 900

Enjin: 1,4 L turbopetrol

Krag: 103kW @ 5 000 r/min

Wringkrag: 230 at 1 750 r/min

Topspoed: 190 km/h

0-100 km/h: 9,8 sekondes

Gemiddelde verbruik: 5,7 L/100 km (6,4 L soos deur ons getoets)