Toetsmotor: Fiat 500L 1.6 MultiJet Lounge (Diesel)

Toe die Fiat 500 die eerste keer vrygestel is, was baie mense verlig. Weg was die treurige, vervelige ontwerpe wat veroorsaak het dat dié motormaatskappy amper ten gronde gegaan het. Hier was ’n byderwetser motortjie met baie om te bied.

Dit was ongelukkig ’n bietjie aan die duur kant, maar beslis ’n plesier om te bestuur sowel as om na te kyk. Nou, met die 500L, het Fiat besluit om weer die gesinsmotormark te betree. Hul vorige probeerslae sluit in die Fiat Multipla – daardie naam alleen laat heelwat lesers waarskynlik sidder; dit is ongetwyfeld een van die lelikste motors wat nog op Suid-Afrika se paaie te sien was.

Dit is waarskynlik een van die groot beweegredes agter Fiat se besluit om hul ikoniese 500-reeks se gesiggie aan hul nuwe familie-karwyer te leen, maar dis nie iets wat my noodwendig beïndruk nie (hopelik is dit net ek wat so voel). Die ontwerp pas mooi op die klein 500, maar met die groter 500L lyk dit aangeplak. Met die Mini Countryman het die ontwerpers byvoorbeeld die Mini se ontwerp aangepas om op die groter motor te pas.

As gesinsmotor is die Fiat nogal suksesvol. Ek kan nie veel fout vind met die ruimte of ritgehalte nie. Die panoramiese glasdak laat die binneruim nog groter voel; dit lyk ook baie spoggerig.

fiat-2

My kollega het nie baie van die ontwerp op die sitplekke gehou nie, maar dit het my nie gepla nie. Die kattebak is ook lekker ruim en het ’n nuttige laairuimte onder die vloer. ’n Stootwaentjie pas ook maklik in die kattebak. Vir mense met babas of kleuters is dit seker een van die motor se beste eienskappe. Met ons gesin is dit altyd ’n gesukkel om ’n waentjie en kruideniersware in dieselfde kattebak te pas.

Die 500L se dieselenjin het genoeg woema vir enige heuwel, al is hy vol gelaai. Dit bring ons by nog een van die 500L se goeie eienskappe: Sy brandstofverbruik is uitstekend. Volgens Fiat is die gekombineerde siklus sowat 4,5 L/100 km. Ek het gevind dat dit nader aan 5,2 L/100 km is, maar dit is nogtans ongelooflik goed vir so ’n groot motor.

Slotsom

Met brandstof wat á duurder word, is hierdie sakpas-motor definitief ’n goeie opsie vir enige gesin wat meer ruimte nodig het en nie rol in die geld nie.

- Anton Vermeulen

  • PRYS R299 490
  • VERRIGTING 1,6 L-viersilinderdiesel, 77 kW, 320 Nm
  • 0-100 7,5 sekondes
  • TOPSPOED 210 km/h; 8,5 L/100 km
  • BRANDSTOFVERBRUIK 4,5 l/100 km Gekombineerde siklus (volgens Fiat), 5,2 L/100 km (getoets deur Huisgenoot)
  • MEDEDINGERS Mini Cooper Countryman
  • ONS HOU VAN Baie spasie. Groter binne as wat ’n mens verwag.
  • DIT PLA Die ontwerp pas nie lekker op die groot lyf nie.

fiat-3