Die Engelse woord “quirky” beskryf hierdie motortjie perfek. Die bankiestoel voor, die oudtydse handrem, die ontwerp en die verbasend knorrige enjin dra alles by om dié Datsun woema te gee.

[post-slider]

Kom ons begin by die begin. Van buite af maak hierdie motortjie seker die beste indruk. Mooi lyne laat die motortjie groter lyk in lewende lywe as wat ’n mens verwag. Dis seker ouliker as wat dit mooi is. Daar is ook heelwat plakkers en opsies om jou motor te laat uitstaan bo al die ander. Die toetsmodel het byvoorbeeld swart en wit ontwerpplakkers aan die kante gehad. Nie wat ek sou kies nie, maar ek kan sien dat iemand dalk daarvan sal hou. Dit laat my amper dink aan hoe mense hul selfone deesdae persoonlikheid gee. Dalk was dit Datsun se plan. Dis seker ook die rede vir die slim plan met die Go se “radio”. Dis ’n “docking station” vir ’n slimfoon. Die gedoente koppel direk met die luidsprekers om jou toegang te gee tot al die musiek op jou foon. Dus is die Go amper soos ’n iPod “docking station” met vier wiele en ’n stuurwiel.

'Daar is ongelukkig nie eens ’n lugsak vir die bestuurder nie.'

Nou kom ons by die veiligheid.

Daar is ongelukkig nie eens ’n lugsak vir die bestuurder nie; ook geen ABS-remme te bespeur nie. Dis jammer dat hierdie karretjie nie hierdie veiligheidsmiddels het nie. Dit sou hom aansienlik aanlokliker gemaak het.

Mens kan eintlik Datsun nie kwalik neem nie, want die prys is ongelooflik laag.

Dit is so te sê die goedkoopste motor op die pad. Jy kan een besit vir ’n skamele R89 500. Splinternuut.

Slotsom

Vir die prys is hierdie buksie in die kol. Hope persoonlikheid en heelwat pret lê vir jou voor as jy hom gaan aanskaf. Dit lyk of daar heelwat herinneringe gemaak gaan word tussen die motortjie se vier deure.

  • PRYS R99 500
  • ENJIN 1,2 L petrol; 50 kW, 104 Nm
  • VERRIGTING 0-100 km/h 13,3 sek. Topspoed 161 km/h
  • VERBRUIK 5,2 l/100km Gekombineerde siklus volgens Volkswagen, 5,2 L/100km getoets deur Huisgenoot
  • MEDEDINGERS Chery QQ3 0.8 TE
  • ONS HOU VAN Ontwerp buite en ’n enjin vol moed.
  • DIT PLA Veiligheid

Mededingers

  • Shery QQ3 0.8 TE R94 900