As jy ’n ryding soek waarin jy ongesiens kan rondrits, moet jy liefs nie die Citroën Cactus oorweeg nie, want nes sy naam, trek hy baie aandag.[post-slider]Die Cactus is ’n soort luikrug gekombineer met ’n sportnutsvoertuig en ding mee met die Ford EcoSport, Renault Captur en Nissan Juke (wat nes die Cactus ’n alternatiewe streep weg het).

Die Cactus se groot plastiek-skermstroke met ’n blokkiespatroon op die kantdeure vang die oog. Citroën noem dit Airbumps en dit kan stampe van tot 4 km/h absorbeer – dus geen kans vir lelike krapmerke van winkeltrollies of iemand wat sy deur teen jou voertuig oopmaak nie. Boonop is die Airbumps glo getoets vir son, stof en hoëdrukwaterspuite by karwasserye. Die Airbumps, plastiekafwerking om die wielboë, ’n hoër grondvryhoogte as ’n gewone motor en dakrelings gee die Cactus nogal ’n robuuste voorkoms. Die aweregse voorkoms is ook voorlangs te bespeur, waar dit lyk of twee stelle hoofligte aan elke kant is. ’n Ander vreemde eienskap is dat die agterste sydeure nie ’n tradisionele ruit het wat afdraai nie, maar wat sywaarts uitwip net om genoeg lug in te laat.

'Die paneelbord lyk minimalisties en hipermodern.'

En moenie dink Citroën se kreatiewe idees is tot die buiteontwerp beperk nie! Binnelangs lyk dit ook anders as die gewone. Die paneelbord lyk minimalisties en hipermodern. Daar is feitlik geen kontroles nie en die meeste funksies word deur ’n raakskerm in die middel verstel – selfs die lugversorging se temperatuur en waaierspoed.

Voor die bestuurder is ook ’n digitale skerm waarop die spoed en ritinligting vertoon word. Nog iets wat ’n mens verbaas, is dat daar nie ’n toereteller is nie, maar dié skermpie sal jou darem waarsku as jy moet ratte wissel.

Die Cactus is goed toegerus met kenmerke soos selfs ’n truratkamera en satellietnavigasie as standaard. Daar is ook ses lugsakke.

Onder die Cactus se enjinkap is ’n indrukwekkende 1,2 L turbopetrolenjin wat 81 kW ontwikkel.

Ons het al met dieselfde enjin in die Peugeot 308 kennisgemaak en hou baie daarvan. Die enjin is meer as gewillig en dis soepel, terwyl dit jou nooit in die steek laat as jy krag soek nie. Op die pad is die Cactus ’n baie gemaklike kar en boesem selfvertroue in met goeie hantering.

Slotsom

Die Cactus verbaas ieder en elk – en as jy tyd in hom bestee, is dit moeilik om nie van hom te hou nie!

Dit is ’n praktiese ryding met genoeg plek binne, ’n ruim bagasieruim (358 L) en ’n volgroottenoodwiel. Nes die motor se voorkoms is hy nie vervelig om te bestuur nie en boonop is die brandstofverbruik redelik goed.

Kompakte sportnuts- en oorkruisvoertuie is baie gewild en die Cactus is ’n waardige mededinger in hierdie segment. En as jy in hom belangstel, sal jy bly wees om te weet Citroën het ook die afgelope tyd baie hard gewerk om sy reputasie ten opsigte van betroubaarheid en naverkopediens te verbeter.

  • Model: 1,2 L Puretech e-THP 81 kW
  • Prys: R284 900
  • Enjin: 1,2 L-turbopetrol
  • Krag: 81 kW @ 5 500 r/min
  • Wringkrag: 205 Nm @ 1 500 r/min
  • Brandstofverbruik: 4,7 L/100 km (5,4 soos getoets deur Huisgenoot)