Dit is die perfekte gesinsmotor, ’n ware suksesresep. Kom ons kyk na van die motor se bestanddele.

[post-slider] Eerstens die enjin. Hierdie 1,6 L-dieselenjin is een van die suinigste wat ek al ooit bestuur het. Op papier lyk dit nie of sy kragsyfers jou asem sal wegslaan nie, maar danksy die wringkrag hanteer die Picasso heel skaflik tussen verkeersligte sowel as op die hoofweg. As jy, soos ek, lief is vir gemak, moet jy die volgende bestanddeel aanskaf. Citroën noem dit die Luxury Pack. Daar is heelwat ditjies en datjies wat jy bykry, maar waaroor ek wil skryf is, die sitplekke. Hemels! Dit het ’n masseringsfunksie, laerugsteun, drie hitteverstellings en is ten volle elektronies verstelbaar.
'Die passasierskant het glad ’n voetrus wat uitskuif wanneer jy terugleun.'

Die passasierskant het glad ’n voetrus wat uitskuif wanneer jy terugleun. My sitkamer steek baie sleg af teen dié wa. Jou gordel waarsku jou selfs as jy per ongeluk van baan verwissel. Hy ruk-ruk tot jy weer mooi in jou baan is. En dit is nie al nuttige veiligheidseienskap nie.

Dit bring ons by bestanddeel drie: veiligheid. Liggies in die kantspieëls is ooglopend die gerieflikste. Dit waarsku jou wanneer daar motors in jou blindekolle is. Die ander veiligheidseienskappe is wat ons van enige veilige Franse motor verwag: ABS-remme met elektroniese remverspreiding, noodremhulp, elektroniese stabiliteitsbeheer met intelligente vastrapbeheer, outomatiese aktivering van die noodligte wanneer skerp gerem word of as daar ’n botsing is, ses lugsakke en ’n aanwyser vir ’n pap band.

Die ontwerpers voltooi die suksesresep met ’n interessante voorkoms. Ek sê interessant, want ek is nie seker dit sal in almal se smaak val nie. Gewoon is dit beslis nie. Jy sal nie middel-van-die-stroom-ontwerp by enige Citroën te sien kry nie. Dit is nogal frustrerend, want soms veroorsaak hul aweregse ontwerpe dat goeie motors vermy word. ’

n Mens moenie hierdie motors op hul baadjie takseer nie, maar met die Picasso het hulle darem nie te wild tekere gegaan nie. Dit is mooi genoeg sodat die meeste Suid-Afrikaners nie skaam sal wees om binne dié Citroën gesien te word nie.

Slotsom

Met die legio opsies en standaardtoerusting sal dit nie ’n fout wees om hierdie wenresep aan te skaf nie.

  • Model: Citroën C4 Picasso Intensive (e-HDi 115 Airdream-turbodiesel)
  • PRYS R345 900
  • ENJIN 1,6 L-turbodiesel; 85 kW, 270 Nm
  • VERRIGTING 0-100 km/h in 11,8 s. Topspoed: 189 km/h
  • VERBRUIK 4 L/100 km gekombineerde siklus volgens Citroën, 4,5 L/100 km getoets deur Huisgenoot
  • MEDEDINGERS Mercedes-Benz B 200 CDI, Volkswagen Touran 2,0 TDI

- Anton Vermeulen