Net voor die einde van verlede jaar het Citroën die tweede generasie van die oulike C1 hier bekendgestel. [post-slider] Die nuwe C1 is heelwat deftiger as sy voorganger en ook heelwat duurder, maar die nuweling is duursamer en beskik boonop oor die nuutste tegnologie. Waar die C1 voorheen met sakpas modelle soos die Chevrolet Spark en Kia Picanto meegeding het, bevind die nuwe weergawe hom eerder in die geselskap van die Fiat 500. Die C1 kan die beste beskryf word as ’n “boetiekmotortjie” en dis waarskynlik meer gemik op diegene wat ’n byderwetse ryding soek.

'Dit is regtig oulik en die prettige voorkoms is ’n vars briesie.'

Eintlik sal jy nie kan help om van die C1 te hou nie! Dit is regtig oulik en die prettige voorkoms is ’n vars briesie.

Dit is ook nie ’n tipiese kabriolet nie, want die dak sak nie heeltemal in die bagasieruim weg nie. Nes die afslaankapweergawe van die Fiat 500 is die C1 Airscape se dak van lap en vou dit in die lengte van die dak weg – amper soos ’n sardientjieblikkie se deksel.

’n Pluspunt van hierdie soort dak is dat jy dit ongeag jou reisspoed kan oop- en toemaak. Die dak seël ook baie goed en Citroën het boonop seker gemaak pad- en enjingeraas word goed uitgeskakel. Die C1 is piepklein, maar binnelangs voel dit darem nie te vreeslik beknop nie. Ja, dit is nou nie ’n gesinsmotor nie, maar kan geskik wees vir ’n enkellopende mens, ’n enkelouer met een kind of iemand wat ’n tweede ryding kort.

'Boonop is die afwerking goed en is dit propvol standaardkenmerke.'

Boonop is die afwerking goed en is dit propvol standaardkenmerke, soos ’n klankstelsel met ’n raakskerm, ’n USB-sok en Bluetooth. Daar is ook temperatuurbeheer, elektriese vensters voor en ’n trurat-kamera. Dit is veilig ook, met kenmerke soos ABS-remme, stabiliteitsbeheer en vier lugsakke.

Maar waar die C1 jou regtig verbaas, is oor hoe lekker dit ry. Dit het ’n 1,2 L-driesilinderenjin wat 61 kW en 116 Nm lewer. Al slaan dié syfers dalk nie jou asem weg nie, moet ’n mens in gedagte hou die C1 weeg net 956 kg. Dit voel dus nie net ongelooflik rats en wakker nie, dit bied ook uitstekende brandstofverbruik.

Volgens Citroën is die gemiddelde verbruik 4,3 L/100 km, maar ons het sowat 5,5 L verbruik (ons het nie gehuiwer om vet te gee nie!).

Slotsom Plaaslik het Citroën se reputasie die afgelope paar jaar wipplank gery, maar die afgelope tyd het die Franse vervaardiger regtig daaraan aandag gegee om beter diens en produkte te lewer. Die jongste sarsie modelle van Citroën, soos die C1, se bougehalte lyk beter en dis ’n plesier om daarmee te ry.

'Die C1 spruit boonop uit ’n groter motorprojek.'

Die C1 spruit boonop uit ’n groter motorprojek; dis deur Peugeot en Toyota ontwikkel, terwyl Peugeot se weergawe die 108 is en die Japannese niggie is die Aygo.

Dit beteken heelwat is in die ontwikkeling van dié motors belê.

Die C1 is ook een van die prettigste motortjies wat ons in ’n lang tyd bestuur het.

Daar is regtig nie baie om mee fout te vind nie, hoewel ’n mens sou kon wens dit was ’n raps goedkoper.

As jy nie die afslaankapmodel soek nie, kan jy die gewone luikrugmodel teen amper R30 000 minder aanskaf.

Hoe dit ook al sy, Citroën kan opreg trots wees op die C1.

Prys: R194 900 (C1 Airscape)

Enjin: 1,2 L, driesiliner

Krag: 61 kW

Wringkrag: 116 Nm

0-100km/h: 11 sek.

Topspoed: 170 km/h

Brandstofverbruik: 4,3 L/100 km (gemiddeld)