[post-slider]Toe die Q3 in 2012 sy verskyning hier maak, was sy enigste ware mededinger BMW se X1, waarvan die tweede generasie binnekort hier te koop sal wees. Verlede jaar het Mercedes-Benz die GLA te voorskyn gebring om die Q3 en die X1 die stryd aan te sê.

En net om seker te maak die Q3 is steeds bestand teen sy mededingers, het Audi dit ietwat opgeknap.

Die grootste veranderings is aan die voorkant, waar ’n nuwe buffer, sierrooster en hoofligte is, terwyl daar agter ook ’n hertonwerpte buffer en opgekikkerde ligte is. Nie dat die Q3 lank in die tand begin lyk het nie, maar danksy die vars voorkoms lyk die Q3 nou ietwat meer robuust.

Die groot nuus in die jongste Q3 is ’n nuwe 1,4 L-turbopetrol-enjin (110?kW en 250?Nm) wat in die intreevlakmodel diens doen. Dit is ook die model wat ons toetsbestuur het. Hoewel ’n sesspoed-handratkas beskikbaar is, het ons toetsmotor ’n outomatiese dubbelkoppelaarkas (S tronic) met sewe gange gehad en dié model is ook net voorwielaangedrewe. Duurder Q3’s is beskikbaar met Audi se bekende Quattro-vierwielaandrywing. En watter ongelooflike ryding is die Q3 1,4 TSI nie!

'Dit is regtig ’n goed gebalanseerde voertuig.'

Dit is regtig ’n goed gebalanseerde voertuig wat ryplesier soos min verskaf. Ten spyte van die klein enjin is die Q3 glad nie lui nie en voel hy eintlik heel lewendig. Volgens Audi sal hy 0-100 km/h in ’n skaflike 9,3 sekondes haal.

Die Q3 tel maklik spoed op, wat hom rats maak met verbysteek. Hy voel vlugvoetig en klou aan die pad, wat die bestuurder te alle tye in beheer laat voel.

Natuurlik is daar al die gewone veiligheidskenmerke, maar daar is ook is allerhande tegnotruuks om seker te maak die Q3 is ekstra veilig.

Hy is ook kompak genoeg as ’n gerieflike stadsryding en parkeer maklik. ’n Ander indrukwekkende kenmerk is die brandstofverbruik – Audi reken gemiddeld 5,8 L/100 km. Ons het sowat 6,7 L gehandhaaf, wat self nie te sleg is nie.

Die Q3 is nou wel die kleinste sportnutsvoertuig in Audi se stal, maar dit beteken nie hy is beknop binne nie.

Daar is genoeg ruimte vir vier volwassenes en die kattebak is 460 L groot. Soos dit ’n Audi betaam, is die binneafwerking regtig goed en voel die Q3 luuks.

Slotsom

As jy ’n Q3 wil koop, hoef jy eintlik net na die 1,4 TSI-model te kyk, want dit het ’n indrukwekkende enjin met goeie brandstofverbruik en is eintlik goeie waarde vir geld.

Dit voel na ’n beter motor as die huidige X1, wat binnekort vervang word, en is ook ’n kortkop voor die Mercedes-Benz GLA.