Nie net lyk dit eintlik mooier as sy groter A4-boetie nie, dit beloof ook om gewilder te wees. Onthou, voorheen het jy die A3 net in ’n tweedeur-luikrug en die Sportback-weergawe met sy vier deure gekry.

[post-slider]

Hoewel die A3-sedan ’n raps kleiner as die A4 is, bied dit regtig meer as genoeg, en dit is immers deesdae die neiging om kleiner motors te koop. Audi kan hulself veral op die skouer klop met ’n geslaagde ontwerp – veral omdat dit nie net lyk soos ’n A3-luikrug waarop daar ’n bagasiebak aangeplak is nie. Die agterkant se ontwerp is besonder geslaag met die kort bagasiebak en die ligte wat netjies vertoon.

Maar die res van die motor is standaard-A3, insluitend die binneruim met hoëgehalte-afwerking.

Ruimte binnelangs is ook nie te sleg nie, en agter is die beenruimte goed genoeg vir twee volwassenes. Daarby is die ruim 425 L-bagasiebak glad nie te versmaai nie, en die rugleunings kan platgevou word vir ekstra ruimte.

Die 2 L-turbodieselenjin is wakker en doen ook sy werk deeglik, terwyl die sewespoed S-tronic outomatiese ratkas seepglad is. Tipies Audi is die A3-sedan se rit foutloos met goeie stuurgevoel en baie gemak.

Dit sal ons nie verbaas as die A3-sedan Audi se gewildste sedanmodel word en die kroon by die A4 steel nie, want dit bied alles wat jy nodig het – en al is dit bietjie kompakter, boet jy regtig nie veel in nie. Verder is dit steeds luuks met allerhande gemakskenmerke en ’n rits veiligheidseienskappe, terwyl dit ook sexy is.

Model: Audi A3 2,0 TDI S-tronic

Prys: R372 500

Enjin: 2 L-turbodiesel

Krag: 110 kW tussen 3 500 en 4 000 r.p.m.; 320 Nm tussen 1 750 en 3 000 r.p.m.

0-100 km/h: 8,4 s.

Topspoed: 219 km/h

Gemiddelde brandstofverbruik: 4,5 L/100 km/h

- Wilmer Müller