Deur JOHN PHILLIPS

DIS die oproepe wat ons almal ken en verpes. Dit begin met ’n wildvreemdeling wat vra: “Haai, hoe gaan dit vandag met jou?”

As jy by die werk is wanneer jy die oproep kry, is jy gewoonlik in ’n vergadering wat jou hele loopbaan kan verander of druk besig om ’n spertyd te probeer haal.

By die huis bel hulle jou meestal wanneer jy in die toilet is, jou hond pas iets wat soos ’n mensehand lyk uit die tuin ingedra het, jou kat nou net op jou splinternuwe stereostel opgegooi het of al drie.

Natuurlik weet jy dadelik hierdie oorvriendelike mens gaan iets aan jou probeer verkoop: ’n afspraak met Julius Malema se neef, ’n vakansie vir twee op ’n eiland in die Indiese Oseaan wat nie eens bestaan nie of die karatekursus waarmee Chuck Norris self begin het.

Jy weet ook jy moet die foon eintlik dadelik neersit, maar jy doen dit nie. Daarvoor is jy te goed opgevoed en gaaf; daarom sê jy “goed, dankie” – en dan het hulle jou!

Dis nie dat hulle juis bedrewe is in die kuns nie. Hulle het bloot jou naam op ’n adreslys gekry wat iewers in die kuberruim rondfladder en nie eens die moeite gedoen om ’n akkurate profiel van jou te probeer saamstel nie.

Nou probeer hulle gim-lidmaatskap aan jou afsmeer terwyl jy van ’n ysterlong afhanklik is, of wil oor jou finansiële portefeulje praat terwyl jy die afgelope drie jaar in ’n kartonboks bly, of motorversekering aan jou verkwansel, al mag jy vir die res van jou lewe nie bestuur nie nadat jy 300 keer met te veel alkohol in jou bloed betrap is.

Eenmaal was ek tog onbeskof. “Wel,” het ek gesê, “as jy werklik wil weet hoe dit vandag met my gaan, sal ek jou vertel. My vrou het my pas gelos, ek het ’n gevreesde siekte, my kinders is almal verslaaf aan tik, my motorenjin het die gees gegee en vreemd genoeg, my hond het pas hier ingehardloop met iets wat soos ’n mensehand lyk.”

Stilte.

“O, dis gaaf. Ek sal nie baie van jou tyd in beslag neem nie. Sê my, het jy ’n selfoon?”

Dis genoeg om jou te laat dink hierdie mense bel jou van ’n oproepsentrum iewers in China en het heel verstaanbaar, ’n beperkte Engelse woordeskat. Daar is die Hi, and how are you today?”, gevolg deur die verkoopspraatjie en daarna die opgewekte Have a nice day”aan die einde van die gesprek.

Dis hoe ver hul opleiding strek. Maar ek wonder of daar nie iets nog onheilspellenders agter die storie skuil nie. Want hulle klink almal so eg Suid-Afrikaans soos pap en wors.

Ek het al gewonder of hulle dalk ruimtewesens is, maar hoekom sou enige ras wat intelligent genoeg is om duisende ligjare ver in die heelal te reis Suid-Afrika as bestemming kies?

Nee, ná deeglike oorweging het ek tot die slotsom gekom hulle is waarskynlik robotte, masjiene wat met die plaaslike spreektaal geprogrammeer is, maar sonder die kognitiewe vermoë om uit die vuis te praat as die mens wat hulle bel van die draaiboek afwyk.

As dit die geval is, is daar eindelose gebruiksmoontlikhede vir hierdie masjiene. Hulle kan as tronkbewaarders benut word (dit word reeds in Suid-Korea gedoen), as banktellers (ja, baie mense reken hulle tree al klaar soos robotte op) en as verpleegsters in hospitale.

Ons kan selfs die wêreld se eerste robot-rugbyafrigter ontwikkel.

Dit sou natuurlik nie volmaak wees nie weens die bogenoemde probleme met logika. En dit kan tot ons verleentheid met aanhalings vorendag kom soos: “Ek gaan ’n rot uit die hoed trek”; “daar is nie ’n groot verskil tussen wen en verloor nie, behalwe dat jy beter voel nadat jy gewen het”; of wanneer sy draadwerk regtig deurmekaar raak: “Ons wil nie ’n vrugteslaai word nie . . . ”

As jy weer een van daardie haai-hoe-gaan-dit-vandag-oproepe kry, spits jou ore vir enige uitvang-klikgeluide, ’n geruis of gegons. Daar is nie net robotte by die meeste kruisings in Suid-Afrika nie. Hulle het stilletjies ál meer aspekte van ons lewens binnegedring as wat ons ooit sal raai, reken ek.

Dit verklaar dalk waarom talle van ons kabinetsministers Peter de Villiers volkome logies laat klink. Neem maar daai Zuma-ou as voorbeeld . . .