Die Suid-Afrikaanse fliek, Material, is besig om baie aandag te trek by die loket. Vele fliekgangers is stomgeslaan deur die fyn balans tussen rou emosie en lekkerlag-komedie. Ons het met die ster van die fliek, Riaad Moosa, gesels om agter die kap van die byl te kom oor die sukses daarvan.

Is jy verras oor die oorweldige positiewe terugvoer wat julle oor die fliek ontvang? 

Ons is nederig oor al die positiewe terugvoer wat die fliek kry. Soveel mense kan aanklank vind daarby. Vir heelwat mense roer dit ‘n hartsnaar.

Wat sal jy aan mense sê wat nog nie die fliek gaan kyk het nie? 

Gaan kyk dit so vining as moontlik. Dit word beskryf as ‘n inspirerende fliekgang-ervaring. Dit is fliek met baie humor, maar dit word als netjies toegedraai in ware emosie.

Hoe lank het dit geneem om die fliek te verfilm? 

Dit het vier weke geneem om te verfilm, ses maande om te redigeer en sewe jaar om te skryf. Craig Freimond het geweet waaroor hy wou skryf, maar hy tik net so ‘n bietjie stadig met sy twee vingers. Ja, dit het dalk lank geneem om die teks te skryf maar mens kan die resultate sien in die verskillende lae waaruit die storie bestaan.

Enige hoogtepunte tydens die verfilming van die fliek wat jy met ons kan deel? 

Al die komedie tonele was ongelooflik lekker gewees. Ons het baie geïmproviseer. Craig het ons baie vryheid gegee binne die raamwerk van die narratief. Dit was baie pret.

Hoe voel dit om jouself op die grootskerm te sien? 

Ek kan nie kyk nie. Ek’s te selfbewus.

Wat is jou volgende groot projek? 

Ek probeer om my kinders betyds aangetrek te kry in die oggende. Wens my sterkte toe.

Kyk die voorprent hier: