Maak 4 liter basiese sop

Bereiding: 20 min

Gaarmaaktyd: 30 min

Pampoensop is baie veelsydig; jy kan kerrie byvoeg of dit selfs met basilie geur. Kook ’n basiese sop en maak sommer drie soorte sop daarvan.

Basiese pampoensopmengsel

6 klein uie, geskil en gekap; olie; 60-125 ml (½ k) koekmeel; 2 liter (8 k) hoenderaftreksel; 2 kg pampoen of botterskorsie, geskil en in stukke gesny; sout en peper na smaak

Soteer die uie in ’n bietjie olie tot sag. Roer die koekmeel by en roer tot glad, voeg dan die hoenderaftreksel by en bring tot kookpunt terwyl jy roer. Voeg die pampoen by en geur na smaak met sout en peper. Verlaag die hitte en laat prut tot die pampoen sag is. Verdeel die mengsel in twee.

Kerriepampoensop

Giet die helfte van die basiese pampoensopmengsel in ’n pot en voeg 375 ml (1½ k) melk, karringmelk of klappermelk by, asook 5-10 ml (1-2 t) kerrie en 1 ml (¼ t) komyn. Bring tot kookpunt en laat prut sowat 15 minute tot geurig. Verpulp in ’n voedselverwerker.

Basiliepampoensop

Giet die helfte van die basiese pampoensop in ’n pot en voeg ’n gekneusde knoffelhuisie, 125 ml (½ k) witwyn en 45-60 ml (3-4 e) gekapte vars basiliekruid by. Bring tot kookpunt en laat prut sowat 15 minute tot geurig. Verpulp in ’n voedselverwerker.

VRIES

Giet die soppe afsonderlik in vrieshouers en vries.

SIT VOOR

  1. Ontdooi en herverhit tot goed warm. Vir kerriepampoensop Roer ’n goeie skep natuurlike jogurt asook suurlemoenskil en koljanderblare by.
  2. Vir basiliepampoensop Kap 2 takkies basilie fyn in ’n voedselverwerker en giet 125 ml (½ k) olie by. Giet die sop in bakkies en roer ’n bietjie basielolie by.