Neem ’n blik tamaties, voeg ’n bietjie knoffel, aftreksel en vars basiliekruid by en jy het ’n heerlike aandete in ’n kits. Rooi lensies kook ook lekker vinnig gaar en gee net die nodige lyf aan die sop.

Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: 15 minute

15 ml (1 e) olie; 1 ui, fyn gekap; 2 knoffelhuisies, gekneus; 5 ml (1 t) paprika; 125 g spek, in blokkies gesny; 2 blikke (410 g elk) kersietamaties; 500 ml (2 k) hoenderaftreksel; 200 ml rou rooi lensies; sout en vars gemaalde swartpeper; vars basilieblare

Verhit die olie in ’n kastrol en braai die ui, knoffel, paprika en spek sowat 5 minute. Giet die tamaties, hoenderaftreksel en lensies by en bring tot kookpunt. Laat die sop sowat 10 minute stadig prut of tot die lensies gaar en sag is. Geur met sout en peper en strooi basilieblare.

WENK:

Vervang die rooi lensies met ’n koppie rou pasta.

As jy nie geblikte kersietamaties kan kry nie, gebruik gewone geblikte tamaties.