sandero-1

Die tweedegenerasie-Sandero, wat definitief goeie waarde vir geld bied, ding mee teen die Volkswagen Polo Vivo, Ford Figo, Toyota Etios en Suzuki se nuwe intreevlak-Swift.

Uiteraard lyk die nuwe Sandero moderner as sy voorganger, maar dis veral onder die enjinkap waar die grootste vernuwing plaasgevind het. Die Sandero het nou Renault se indrukwekkende 0,9 L-turbopetrolenjin.

Dié driesilinder-enjin, wat ook in die Clio diens doen, ontwikkel 66 kW krag en 135 Nm wringkrag – wat vergelykend is met ’n tradisionele 1,4 L-enjin. En die beste nuus is dat brandstofverbruik glo redelik goed is; volgens Renault is die gemiddelde verbruik 5,2 L/100 km.

Die nuwe Sandero is beskikbaar as twee modelle, die Expression (intreevlak) en die luukser Dynamique.

Sandero-3

Maar die Expression bied ’n rits kenmerke as standaard, soos ’n klankstelsel met Bluetooth, elektriese vensters voor, kragstuur, twee lugsakke voor en ABS-remme. Lugversorging gaan jou egter ’n bykomende R10 000 kos.

Die Dynamique-model het al die bogenoemde kenmerke en lugverkoeling as standaard, maar het ook elektriese vensters agter, 15-duim-allooiwiele, misligte, spoedbeheer en elektriese kantspieëltjies.

Albei modelle ’n het ’n diensplan van twee jaar of 30 000 km as standaard en ’n waarborg van vyf jaar of 150 000 km.

Dit lyk beslis of die Sandero dalk die beste waarde vir geld in sy klas kan bied; sodra ons een toetsbestuur, sal ons ons indrukke met julle deel.

Pryse:

  • Expression: R123 900
  • Expression met lugverkoeling: R133 900
  • Dynamique: R141 500

sandero-2