Renault het ’n bekostigbare sportnutsvoertuig, die Duster, plaaslik bekendgestel. Hy gaan meeding met die Ford EcoSport en die gewilde Nissan Juke.

Die nuwe Duster met sy bonkige stilering is beskikbaar as ’n tweetrek of viertrek, terwyl kopers ook kan kies tussen twee enjins en afwerkingsvlakke het.

Dis 4,32 m lank en 1,82 m wyd, terwyl Renault daarop aanspraak maak dat die Duster meer binneruim as sy mededingers het. Voorts is die grondvrye hoogte glad nie sleg nie, en is die 205 mm vir die tweetrek-model en 210 mm vir die viertrek-weergawe.

Die twee enjins is ’n 1,6 L-petrol en ’n 1,5 L-turbodiesel. Krag en wringkrag vir die 1,6 L-enjin is onderskeidelik 75 kW and 145 Nm, terwyl die gemiddelde brandstofverbruik 7,5 l/100 km is.

Die 1.5 dCi-model ontwikkel 80kW se krag en 240 Nm.-wringkrag, en volgens Renault is die gemiddelde brandstofverbruik 5,5 L/100 km vir die tweetrek- en 5,3 L/100 km vir die viertrek-model.

Die intreevlakmodel is beskikbaar in die Expression-afwerking en van sy standaardkenmerke sluit in misligte voor, dakrelings, lugverkoeling, sentrale sluitstelsel, elektriese vensters, ’n klankstelsel met ’n USB-anker en Bluetooth en parkeersensors agter.

Die luukser Dynamique-model het ook onder meer ’n navigasiestelsel en 16 duim-allooiwiele.

Veiligheidseienskappe sluit in ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding (EBD) en nood-remkragbystand (EBA), terwyl daar ook ’n rits lugsakke is.

Boonop kry die viertrek-model ook stabiliteitsbeheer en ’n gevorderde vierwielaangedrewe-stelsel wat deur Nissan ontwikkel is.

By die Duster se prys is ’n vyf-jaar-/150 000 km-waarborg en ’n drie-jaar-/45 000 km-diensplan ingesluit.

Pryse

1.6 Expression 4x2: R194 900

1.6 Dynamique 4x2: R204 900

1.5 dCi Dynamique 4x2: R219 900

1.5 dCi Dynamique 4x4: R239 900

Renault Duster

Renault Duster