“Die regter het vanoggend ’n bevel toegestaan om die saak tot 7 Augustus uit te stel,” het Duncan Heuer gesê.

Nadat die saak verlede week as dringend beskou is, sou dit Dinsdag begin het as dit nie teengestaan is nie, het hy gesê.

Nadat die verbruikers se regsverteenwoordigers verlede Donderdag hul dokumente ingedien het, het die Satinsky-groep, wat die skema bedryf, tesame met Absa, Nedbank en Standard Bank verlede Vrydag hul kennisgewing van teenstand ingedien.

“Omdat dit nou teengestaan is, het die aansoekers en respondente Maandag afgespreek dat dit op die 24ste (Donderdag) gehoor sou word,” het Duncan, van die regsfirma Pieterse Cary Finlaison, gesê. Die regter het toe gelas die saak gaan op 7 Augustus gehoor word.

Daar is so besluit sodat die aansoeker en die respondent hoofargumente kan indien en dat dokumente in antwoord daarop ingedien kan word. Sondag het die Business Times berig ’n groep van sowat 550 verbruikers – onder leiding van Duncan – sou die hof vra om die kontrakte tussen die banke en die motorkopers nietig te verklaar. Weens die naderende verhoor kan die banke deur ’n groepsgeding in die gesig gestaar word. Hulle het die skema ondersteun wat Andre Venter, uitvoerende hoof van die Satinsky-groep, in 2008 gestig het.

'Die skema het sowat 17 000 mense geraak.'

Die skema het sowat 17 000 mense geraak. Dit het belowe om paaiemente op nuwe motors tot sowat R669 te verminder as motoriste ’n minimum afstand met die advertensie op die motor aflê.

Die skema het vroeër vandeesmaand in duie gestort en banke vereis nou die volle paaiemente, maar nie al die betrokkenes kan dit bekostig nie.

Duncan het gesê hulle is daar om dié te help wat deur die R699-ooreenkoms geraak is.

“Die grootste probleem is die verbruikers is nou te diep in die skuld,” het hy gesê. “Hulle (die verbruikers) het die ooreenkoms beëindig en kan nie meer die korting ontvang wat hulle aanvanklik gekry nie.”

Volgens Duncan het die verbruikers se korting begin verminder en het hulle geen bystand gekry toe hulle Satinsky kontak nie. “Kragtens die Kredietwet het hulle nie voldoen aan wat hulle geadverteer het nie,” het hy gesê.

“Ons kyk na die verbruikers se beste belang en probeer binne die reg doen wat ons kan om hulle te help.”